Boekresensie: Jaco Jacobs en Fanie Viljoen se ‘Die wonderwêreld van Seelewe’

Ek is sommer baie opgewonde oor hierdie opvoedkundige volkleurboek wat propvol aktiwiteite, speletjies, kopkrappers en interessante feite is oor die oseane.

Jaco Jacobs en Fanie Viljoen is albei bekroonde skrywers wat geen bekendstelling nodig het nie. In Die wonderwêreld van Seelewe span die skrywers hulle talente saam om kinders (én grootmense!) bewus te maak van die wonder van ons maritieme lewe. Nie net is die foto’s en illustrasies in dié leersame boek ’n visuele bederf nie, maar die inligting word op só ’n prettige wyse aangebied dat ure se kyk- en leesgenot op die leser wag. Die boek kan vir ontspanning gelees word en ook as naslaanbron gebruik word.

Het jy byvoorbeeld geweet dat die pragtige blouringseekat se gif 10 000 keer sterker is as sianied en dus sowat 30 mense binne minute kan doodmaak? Soutwaterkrokodille word tot 7 meter lank en kan ’n ton weeg. Witdoodshaaie het meer as 300 tande. Sommige seekomkommers word tot 4 meter lank. ’n Albatros kan soms meer as 500 kilometer aflê sonder om een keer vlerke te klap. ’n Blouwalvis se tong weeg soveel soos ’n olifant. Het jy al gehoor van ’n vetkop, narwal of ’n beloega?

Die boek wemel van al die wonderlike feite en raaisels. Mens kan nie wag om om te blaai en te sien wat wag op die volgende bladsy nie.

Ek hou veral van die Red ons oseane-gedeelte agter in die boek. Dit is propvol raad en voorstelle oor hoe om besoedeling en ander bedreigings wat die aarde se oseane in gevaar stel, te help beveg.

Koop gerus hierdie boek vir ’n leergierige kind as geskenk. Jy sal hiermee ’n groot liefde vir die seelewe by hom of haar kweek.

Die wonderwêreld van Seelewe is boek 13 in die Hoezit-reeks. Dit is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za.

Louise Viljoen is ‘n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanlie ·

Hierdie Hoezit-reeks is ‘n moet vir elke laerskool kind. My kinders geniet hierdie boeke vreeslik (hulle Ma ook) en dit is al gebruik in projekte en mondelings.
Fanie en Jaco doen ‘n puik stukkie werk hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.