Boekresensie: Jakkals en Wolf

Jakkals en Wolf deur Pieter Willem Grobbelaar en Séan Verster word deur Human & Rousseau uitgegee.

Ek beskou Jakkals-en-Wolfstories as verpligte leesstof vir alle kinders. My eie dogter het grootgeword met Jakkals-en-Wolfstories – weliswaar dié wat wyle Dana Niehaus so skitterend op kasset voorgedra het. Ek hoor nou nog sy alombeminde stem in my ore weerklink soos hy die stories vertel en sien in my geestesoog die verwondering in my dogter se ogies terwyl sy tjoepstil sit en vasgevang luister. Om die waarheid te sê, bewaar ek dié kasset nog al die jare saam met foto’s en ander memorabilia in ’n boks.

Vir dié wat nie weet nie, Jakkals (sy bynaam is Klaas Naald) is ’n uitgeslape kalant met ’n gladdebek. Hy is vol streke en bak graag poetse. Selfs wanneer iemand hom probeer terugkry, beland hy gewoonlik op sy voete en lag laaste. Wolf is weer goedgelowig en nuuskierig. Hy val vir vleitaal en is boonop dom en naïef – die perfekte slagoffer vir die aardskelm Jakkals. Gelukkig vir Jakkals is Wolf, wat gewoonlik aan die kortste end trek, nie haatdraend nie, of dalk is hy maar net té onnosel en vergeet hy net gou. “Maar soms loop Jakkals sy rieme styf en dan moet hy net bontstaan met sy slim bek om uit die moeilikheid te kom, want dis gewoonlik diep moeilikheid!” (1)

Jakkals en Wolf beleef die een skreeusnaakse, holderstebolder avontuur ná die ander. Jakkals kom meestal die beste daarvan af danksy sy verstand wat kwansuis so skerp soos ’n els se punt is, terwyl arme Wolf dikwels riemspring, geskop word en selfs met ’n koeël in die boud opeindig. “Sy rug is nie af nie, net gekraak. Maar kyk hoe lyk hy nou. Hy is maer en uitgeteer, sy hare is dof en leweloos, en sy stuitjie is gebuig” (27). Ná Wolf se stert byvoorbeeld vasvries omdat Jakkals hom vertel het hy kan ’n vis met sy stert uit Boer se bevrore plaasdam trek, kom hy met ’n skraap oor sy kennebak, ’n hap in sy linkersy, ’n hou oor sy regterblad en ’n halwe stert daarvan af. Jakkals het al die tyd vir hom ’n streep getrek en vir Boer gaan waarsku dat Wolf sy vis steel. Boer het natuurlik dadelik afgesit dam toe en vir Wolf met die sambok bygekom. Boonop het Boer se honde ook met Wolf afgereken. Hier is wat volg op bl. 60:

Die eerste een wat hy raakloop, is Jakkals, wat kastig van g’n sout of water weet nie. “En nou, Wolf?” vra hy. “Is daar iemand in die familie dood? Hoekom hang jou vlag so halfmas?”

Dit moes hy nie gesê het nie. Wolf praat net een keer, en hy praat nie mooi nie. Toe is dit Jakkals wat moet vlug vir sy lewe. As daar nie skielik ’n klipskeur opgeduik het nie, was dit dalk sy laaste grappie. Soos blits glip hy daar in. Wolf is te groot om hom te volg en staan buite en tande kners. Jakkals sit lekker binne en koggel.

“Ek het jou gesê visvang is gesond,” praat Jakkals. “Maar wat ek eintlik bedoel het, is die agterste hond raak die maklikste gewond.”

Die immer-geliefde Jakkals-en-Wolfstories is net ’n plesier om te lees. “Hierde diere-eposse […] lewer op ’n satiriese wyse kommentaar op die een of ander samelewingsaspek; dit is dus didakties van aard. Menslike kwaliteite word aan diere toegesê solank die diere net met hulle eie, unieke karaktereienskappe menslike handelinge naboots” (1-2). Dit word voorgeskryf vir kinders 9-12 jaar oud, maar volwassenes sal hulle ook in die twee karnallies se manewales verkneukel.

Ek het my ook nie nét aan die verbeeldingryke teks en pragtige taalgebruik verlustig nie. Séan Verster se kleurvolle en skreeusnaakse illustrasies sorg vir vet pret en dra mildelik daartoe by dat Jakkals en Wolf ’n onvergeetlike leeservaring is. Die boek beslaan 221 bladsye en daar is 53 stories.

Meer oor die skrywer:

Pieter Willem Grobbelaar (25 Desember 1930 – 19 Januarie 2013) is in Bloemfontein gebore. Hy het Suid-Afrikaanse volksverhale versamel, opgeneem en neergeskryf deur groot verskeidenheid bronne plaaslik en oor die wêreld te raadpleeg.

Kry jou kopie van Jakkals en Wolf hier.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
B

Die kunswerk van hierdie boek maak my vierjarige baie deurmekaar. Wolf lyk darrem baie soos ‘n hyena.