Boekresensie: Jou natuurgids

Jou natuurgids deur Megan Emmett word deur Briza Publikasies uitgegee.

Skaf gerus hierdie boek met groot vrymoedigheid aan indien jy ’n natuurliefhebber is, hetsy amateur of ervare, en graag meer wil leer oor die diere en plante van Suider-Afrika. Dit is ook ’n ideale inligtingsbron vir veldgidse wat ’n wye verskeidenheid inligting aan safari-kliënte moet bied. Jou natuurgids is ook beskikbaar in Engels onder die titel Nature Unpacked – oorsese besoekers aan Suid-Afrika behoort die boek ’n onontbeerlike skatkis oorlopenstoe vol asemrowende inligting te vind, veral omdat visuele dubbelbladsye help met vinnige identifikasie van ’n spesie.

Hierdie alles-in-een-gids beskryf die gedrag van “die algemeenste soogdiere, voëls, reptiele, paddas, insekte, spinnekoppe, skerpioene, bome en blomplante” wat in ’n spesifieke streek aangetref word. Nie net verklap die teks en foto’s “wat die kreature van die Afrika-wildernis doen en waarom hulle dit doen” nie, maar daar is ook nuttige “verspreidingskaarte, dierspore, ikone en tabelle vir vinnige identifisering”. As ’n opsionele bonus kan die leser met die Briza Klankleser ® na die geluide luister wat die soogdiere, voëls, paddas en ander diere maak, of hoor hoe klink die uitspraak van hulle wetenskaplike name.

Ek is hoog in my skik met my kopie van Jou natuurgids! Die sagtebandboek beslaan 384 bladsye en bied meer as 900 uitstekende volkleurfoto’s. Die uitleg is slim en verbeeldingryk en nooi lesers om hulself in die interessante, feitelike inhoud te verdiep en meer te leer oor die gedragswyses van wilde diere. “Die boek bied praktiese, verklarende inligting aan oor die spesies wat die wydste aangetref word en poog om die inligting op ’n toeganklike, verstaanbare wyse, met ritse verduidelikende foto’s, oor te dra.”

Die afdeling oor soogdiere “ontsluit die ontwerpe, aanpassings en gedrag van die algemeeste soogdiere”. Dit word behandel onder die hofies Groot vyf, Algemene soogdiere (bv. rooibok, blouwildebees en blouaap), Wildsbokke (bv. koedoe, duiker en steenbok), Vleisvreters (bv. rooijakkels, bakoorvos en stokstertmeerkat) en Naglewende soogdiere (bv. muskeljaatkat, ratel en nagapie).

Die afdeling oor voëls help die leser nie net om voëls uit te ken nie, maar bied ook “boeiende feite oor die biologie en gedrag” van voëls. Die voëlgroepe word behandel onder die hofies Roofvoëls (bv. slangarende, roofarend en kaalwangvalk), Nagvoëls (bv. uile en naguiltjies), Aasvoëls, Volstruis, Grondlewende voëls (bv. sandpatryse, tarentale en kraanvoëls), Neushoringvoëls, Bromvoëls, Visvangers, Renostervoëls, Spegte en ook  die Versamelvoël. Algemene onderwerpe soos onder meer voëls se vere en vlug word bespreek asook voortplanting, sang en verdediging.

Die afdeling oor reptiele en paddas gee meer inligting oor onder meer die Nylkrokodil, blawwende geitjie, flapnek-verkleurmannetjie, wipneuskobra, Karoo tentskilpad en ook die Kaapse spookpadda, trilsandpadda en kliklangtoonpadda. Ek het my omtrent verstom aan die mooi beskrywende name vir die reptiele en paddas! Ek het byvoorbeeld nie voorheen gehoor van die snorkmodderpadda en gewone blikslanertjie nie.

Die afdeling oor insekte, spinnekoppe, skerpioene en ander algemene ongewerweldes is ook vreeslik interessant. Ek het al te lekker gelees oor onder meer die vywespe, optogwurms, skuimbesies, plofkewers, doudruppelspinnekoppe, bokspoorspinnekoppe, dikstertskerpioene asook die rooifluweelmyt en Afrika-reuselandslak.

Onder die afdeling oor bome kan lesers hulle verlustig aan die die foto’s en inligting oor  bv. die kierieklapper, laventelkoorsbessie, towerghwarrie, haak-en-steek en blinkblaar-wag-’n-bietjie. Die bome word ook geklassifiseer volgens blaartipe, blaarrand, blaarrangskikking en duur (immergroen, bladwisselend of half-bladwisselend).

Die afdeling oor blomplante spog met onder meer die noem-noem, beesdubbeltjie, wildetrompettertjie, hartmantaaiblaar en die bobbejaanstert. Ek het sóveel plesier daaruit geput deur die name hardop te sê en dan die gepaardgaande foto by elke blomplant te bestudeer.

Meer oor die skrywer:

Megan Emmett het meer as twee dekades se ervaring in die natuurbedryf agter die rug. Sy was ook vir byna ’n dekade lank senior vervaardiger van 50/50, SA se langdurigste omgewingstelevisieprogram, en het onder meer drie wildleweboeke en ’n TV-kinderreeks oor wilde diere geskryf. Sy is ook die outeur van Die veldwagter stap saam.

Meer oor die fotograaf:

Shem Compion werk as natuurkenner en professionele wildfotograaf reg oor Afrika. Hy het al nasionale en internasionale toekennings ingepalm met sy fotografie. Jou natuurgids is sy vyfde publikasie. Gaan loer hier na meer van Shem se werk.

Bestel Jou natuurgids en Nature Unpacked hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.