Boekresensie: Jy kan die wêreld verander

Jy kan die wêreld verander deur Lucy Bell word deur Human & Rousseau uitgegee.

Hierdie praktiese gids, geskryf deur Lucy Bell en in Afrikaans vertaal deur Fanie Viljoen, se oogmerk is om kinders van 9-12 jaar oud toe te rus en te inspireer om van die wêreld ’n beter plek te maak. Die boek nooi jong lesers om stelselmatig en doelgerig tot aksie oor te gaan, want klein veranderinge maak ’n groot verskil. Op die agterblad staan in groot letters geskryf: “Ons kan elke dag iets doen om die aarde ’n beter, veiliger en gelukkiger plek te maak. Hier is jou kans om deel te neem!”

Jy kan die wêreld verander beslaan 160 bladsye en is tjokkenblok vol wonderlike aktiwiteite en idees oor hoe om goed te wees vir die aarde. Die gids gee vir kinders waardevolle raad en wenke oor hoe om aksie te neem en ’n verskil te maak. Dit is opgedeel in agt baie interessante hoofstukke, naamlik Plastiek; Etiese en omgewingsvriendelike klere; Rommel; Voedsel; Tuinmaak en die natuur; Energie, elektrisiteit en water; Diereaktivisme en Goeie dade. Daar is ook ’n ekstra bylaag getiteld Groepsaktiwiteite. Die boek is visueel baie mooi uitgelê, en die kunstige illustrasies deur Astred Hicks van Design Cherry trek ook dadelik die aandag. Die sagtebandformaat maak dat die boek lekker vashou én lees.

Lesers word reeds in die Inleiding daaraan herinner dat kinders die toekoms is en dat dit ook hulle plig is om die aarde te help beskerm. Die boek handel onder meer oor bewusmaking van alles wat jy doen en die keuses wat jy elke dag maak en hoe jouu optrede die wêreld om jou beïnvloed. Ons hoor van besoedeling, klimaatsverandering, diere en mense wat sterf, spesies wat uitsterf, ens. Ons weet egter nie altyd wat om daaromtrent te doen nie. Hierdie boek gee feite en slim antwoorde en voorstelle oor hoe elkeen individueel of in groepsverband hulle deel kan doen om ons ongelooflike planeet te red. “Ons moet almal saamwerk. Dis belangrik dat elkeen van ons veranderinge aan ons eie lewens aanbring om die wêreld te help, maar dis ewe belangrik dat ons skouer-aan-skouer met ons vriende en familie werk om dit te doen” (155).

In hoofstuk een wat oor plastiek handel, leer kinders byvoorbeeld dat daar jaarliks omtrent 500 miljard wegneemkoffiekoppies wêreldwyd geproduseer word. Elke koppie neem 50 jaar om af te breek. Kinders word aangemoedig om hulle ekologiese voetspoor te verminder en koffiedrinkers en koffiewinkels op te voed oor hoe om planeetvriendelike alternatiewe te oorweeg en om aan te dring op koffie in herbruikbare koppies.

Van die praktiese aktiwiteite waaraan kinders kan deelneem, is om ’n prettige piesang-smoothie vir hulle hare te maak of appelwynasyn as haarspoelmiddel te gebruik. Hulle kan ook komposhouers maak en hulle eie spruitjies kweek. Daar is ’n bladsy vol nuttige telefoonnommers soos dié vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die Domestic Animal Rescue Group (DARG). Kinders word onder meer aangemoedig om ’n welwillendheidsdagboek te hou en elke mooi ding wat hulle doen neer te skryf, want dit neem oefening om gaaf te wees. Hulle leer ook oor vergifnis, mededeelsaamheid en hoe om geld in te samel vir ’n goeie doel.

Ek is baie beïndruk met hierdie broodnodige en baie welkome toevoeging tot literatuur wat kinders opvoed om omgewingsbewus te wees en die aarde te beskerm.

Meer oor die skrywer:

Lucy Bell beskik oor ’n meestersgraad in die uitgewerswese. Sy werk vir ‘n uitgewershuis wat fokus op sosiale bevordering en samel fondse in vir liefdadigheidsorganisasies en ‘n organisasie sonder winsoogmerk om sodoende die geletterdheidsgaping te help vernou.

Kry jou kopie van Jy kan die wêreld verander hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.