Boekresensie: Jy kán verander

Jy kán verander deur dr. Gerdi van den Berg word uitgegee deur Struik Christian Media.

Kognitiewe-gedragsterapeut en berader van Kaapstad, dr. Gerdi van den Berg, het meer as 22 jaar se ervaring in terapie en geestelike berading. Sy glo dat verandering van ’n persoon nie net moontlik is nie, maar ook noodsaaklik is vir ’n voluit-lewe.

Sy skryf: “Permanente verandering wat ewigheidswaarde het, is moontlik wanneer die vernuwing tot ons diepste kern deurgedring het. So ’n verandering is ’n totale herskepping, ’n aflê van ons interpretasies en aannames en die ontdekking en aanvaarding van God se waarheid.

“Kognitiewe gedragsterapie help mense om hul persepsies en oortuigings te sien vir wat dit is – nie noodwendig die waarheid nie – en om daardie persepsies te verander sodat hulle beter kan funksioneer.”

Ek het Jy kán verander, met die universele tema oor die rol wat die hart speel in die proses van verandering, fassinerend gevind. Kognitiewe gedragsterapie is ’n interessante veld en die onderhoudende wyse waarop dr. Van den Berg gevallestudies integreer om die oorgang van die ou mens na die nuwe mens te illustreer, het my geboei. Haar skryfstem is gesaghebbend én gemaklik, en maak dat die leser die kosbare inhoud toeganklik vind, dit begryp en daarmee identifiseer. Die beginsels in die boek rus mens toe om volhoubare verandering te kan ondervind, maar eers moet jy leer om jou binnetaal te verstaan. Ek het die boek persoonlik van waarde gevind en beveel dit heelhartig aan.

Jy kán verander bestaan uit twee dele. Deel 1 ondersoek moontlike redes waarom die veranderings wat ons maak dikwels net tydelik van aard is. Dit handel oor die aannames of persepsies wat ons op ’n dwaalspoor hou of ’n voortdurende innerlike worsteling tot gevolg het. Deel 2 beskryf die proses van permanente vernuwing en bespreek die verskillende stappe om dit te bereik. Dit behandel m.a.w. die beginsels wat jou op die oorwinningspad bring en hou. “Die verwerking van inligting soos dit tydens kognitiewe gedragsterapie sigbaar raak, word deur die hele boek verweef met die herskeppingsproses, oftewel ’n verandering van ons totale menswees, naamlik liggaam, siel, gees en hart.  Elke hoofstuk eindig met ’n slotsom, ’n binne-dinkskrum en ’n gebed. Vrae noop die leser om selfondersoek te doen. Daar is ’n treffende seënbede aan die einde van die boek.

Vir my was hierdie boek méér as net ’n selfhelpboek. Dit was ook ’n openbaring. Ek het geleer dat die brein inligting stoor en verwerk op maniere wat ’n uitwerking kan hê op hoe jy daarop reageer. Dit wat in jou verlede gebeur het, kan dus ’n beduidende rol speel in hoe jy vandag op situasies reageer of na jouself kyk. Jy kan egter leer om deur God se oë na jouself te kyk en die potensiaal waarmee jy gebore is, optimaal te ontwikkel en te vergroot. Jy kan leer om jouself na waarde te ag en onvoorwaardelik te aanvaar. Jy kan ook leer hoe om die vyand se leuens uit te ken en wanpersepsies wat jou lewensvreugde steel, hok te slaan. Jy kan deur omstandighede en gevolge werk en in oorwinning leef. Jy het bestaansreg en jy het ’n skeppingsdoel. Laat God toe om jou deur sy Woord te herskep en jy sal ewigdurende verandering beleef.

Hein Vorster, sielkundige en pastoor by Powerhouse Ministries International: Durbanville, stel dit só: “Om ons denke oor onsself, ander en die lewe te vernuwe, is ’n Bybelse opdrag wat vra dat ons moet sterf aan onsself en ons oortuigings moet bring onder gesag van God se lewegewende Bybelse waarheid – sy Woord.”

Dr. Gerdi van den Berg se Jy kán verander is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Gaan kuier gerus ook op haar webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.