Boekresensie: Kamp vir monsters

Boekresensie: Kamp vir monsters is geskryf deur De Wet Hugo en word deur Human & Rousseau uitgegee.

Kamp vir monsters, die derde boek in De Wet Hugo se uiters gewilde Grilgrypers-reeks vir kinders 9-12 jaar oud, beloof om menige jong leser behoorlik die skrik op die lyf te jaag. As jy daarvan hou om jouself bang te lees, dan is hierdie boek net vir jou! Slegs die heel dapperes sal die boek klaar lees.

Clayton se ma is dood en sy pa het ’n nuwe meisie – ’n goor vrou wat Clayton se lewe hel maak en sy pa om haar pinkie draai. Clayton doen alles in sy vermoë om haar uit hulle lewens te verdryf – hy krap tot haar luukse motor en steek haar peperduur skoene aan die brand! Clayton se pa stuur hom weg na ’n rehabilitasiekamp vir tienerkriminele wat gedragsprobleme toon.

Die geweldige streng sekuriteit- en veiligheidsmaatreëls by Kamp vir Mentors laat Clayton dadelik vermoed alles is nie pluis nie. Hoekom moet soldate in kamoefleerdrag ’n handjievol kinders oppas? Is die wagte wat soos Stormtroopers uit Star Wars lyk daar om die kinders binne te hou of om iets onnoembaars buite te hou? Clayton kom gou agter dat die sogenaamde luukse rehabilitasiekamp eintlik ’n strafkamp is wat ’n dekmantel is vir baie meer sinistere dinge. Daar is afskuwelike monsters in die digte woude om die kamp!

Kamp vir monsters lees soos die draaiboek van ’n rillerfliek. Die boek is in kort, spanningsvolle hoofstukke opgedeel. Elke hoofstuk eindig op ’n tandeknerser wat maak dat jy nie kan wag om om te blaai en verder te lees nie. Net soos in Die vloek van Vreesbaai en Web van die mummie word die hoofkarakter gekonfronteer deur sy ergste vrees en moet hy  ’n manier kry om dit te oorwin. In Kamp vir monsters is Clayton ’n helifoob wat ’n oordrewe vrees het vir bome. Hugo los genoeg onbeantwoorde vrae in elke boek wat die leser nog lank laat wonder oor die grillerige stories.

Ek is seker dat heelwat lesers vir nóg bangmaakstories uit Hugo se pen gaan vra. Kamp vir monsters is by toonaangewende handelaars beskikbaar. Grilgrypers kan hier meer oor die skrywer en sy boeke gaan nalees. Die talentvolle Shân Fischer is verantwoordelik vir die grillerige voorblad van hierdie 120 bladsye-lekkerleesboek.

Meer oor die outeur:
De Wet Hugo is ‘n laerskoolonderwyser by ‘n Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië. Hy het as tiener Stephen King se boeke verslind. Hy is ook lief vir Francois Bloemhof se rillers en Troula Goosen se raaiselstories. Die kinders vir wie hy skoolhou verkies R.L. Stine se opwindende Goosebumps-reeks.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.