Boekresensie: Kanker schmanker

Kanker schmanker deur Madelein Rust word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Madelein Rust, die skrywer van die boek Kanker schmanker, glimlag uitdagend op die voorblad neffens die woorde “Hoe een dapper vrou vir die Groot K tong uitgesteek het!” Dis moeilik om te glo dat hierdie lieflike vrou ’n taai stryd met borskanker agter die rug het. Soos sy self opmerk: “Ek leef. Ek is nog hier om my mense te oorlaai met liefde, want dis wat werklik belangrik is. Ek kan die blote feit van my oorlewing gebruik om mense te bemoedig, want dis wat werklik broodnodig is.”

Rust deel intieme besonderhede van haar persoonlike belewenis met kanker en gee die leser ’n “eiesoortige blik op die fisieke ervarings van borskankerstryders sowel as die ewig veranderende binnewêreld van dié wat teen die siekte veg.” Haar eerlike vertellings laat die leser geensins onaangeraak nie – jy lag én huil. Sy neem jou wel saam op haar kankerreis, maar eintlik is die verhaal, in Elma Smit (TV- en radio-persoonlikheid) se woorde op die agterbladteks: “’n Moet-lees vir enigeen wat deur enige vorm van swaarkry gaan.” Dit is immers ’n “boek van hoop en triomf”. Rust dra die boek van 224 bladsye en 51 hoofstukke op aan “die gevalle helde in my binnekring” en skenk die totale opbrengs uit die boek se verkope aan mense wat hulp tydens of ná hulle stryd met kanker benodig. LAPA werk in hierdie verband saam met People Living with Cancer om die proses te fasiliteer. Ten spyte van hulle naam, is die meeste van People Living with Cancer se kliënte Afrikaans, en hulle bedien ook heelwat mense in Afrikatale.

Rust skryf in die proloog hoe sy en haar vriendinne in 2014 gesit en gesels het oor van haar kollegas wat met borskanker gediagnoseer is: “Mens se hart bloei. Jy kan jouself nie die trauma indink nie. Jy hoor stories van vroue se dapperheid in die aangesig van ’n gevreesde siekte; een wat liggaam en siel op ’n baie unieke wyse aanraak. Bewondering! In jou hart weet jy dat jy self nooit so dapper sal kan wees nie.” Min het sy kon raai dat sy die jaar daarop self met ’n diagnose van borskanker gekonfronteer sou word. Vandag dien haar oorlewingstog tot aansporing vir duisende vroue, en rus dit “borskankerstryders toe met inligting wat nie geredelik beskikbaar is nie en help ook hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan.”

Sy vertel van die skriknag in Maart 2015 toe brandpyne in haar bors haar laat regop ruk het in die bed en sy gedink het dis net weer ’n sist wat lol. Sy skryf van haar aanvanklike pogings tot selfdiagnose op die internet, maar ook hoe sy een oggend voor die spieël besef het: “Hierdie is ’n baie ongelukkige bors. Een wat kanker inhet.” Op die ou einde moes sy aan haar dokter bely: “Ek het bietjie van ’n boobie-probleem”. Hy het die bors twee kyke gegee en verklaar: “Hier is groot probleme. Ek wil jou nie bangmaak nie, maar dinge lyk nie goed nie. Gróót probleme.” Kort daarna het ’n radioloog dit bevestig: “Dis kanker.” Die kwaadaardige gewas in haar regterbors het toe reeds na die limfkliere onder haar regterarm versprei.

Rust vertel hoe sy haar gesinslede oor die tyding ingelig het en deel hulle uiteenlopende reaksies met die leser. Tanya, haar kwaaitjie-kind, raas: “Ma sál gaan vir behandeling. Ma sál elke bleddie ding doen wat die dokter sê.” Nico, haar seun met die bottersagte hart, wil weet: “Gaan Moeks vir behandeling gaan?” En sy antwoord: “Jip. Jou sussie het my laat sweer.” Toe Juan, haar Viking-man, later by die huis aankom, hou hy haar styf vas en belowe: “Alles sal oukei wees.”

Die nuus dat sy kanker het, versprei vinnig onder haar kollegas en familie. “Op daardie dag al kom ek agter dat mense anders na jou kyk wanneer jy kanker het. Dis asof jy eenklaps ’n ander klassifikasie het, asof jy nie meer jý is nie. Jou naam is weg, jou voormalige identiteit. Jy is daardie vrou wat kanker het. Die een wat moontlik vroeg gaan sterf. Die een wat binnekort nie meer hare gaan hê nie.”

Vir my is een van die mees aangrypende tonele in die boek waar Rust en haar man in die chirurg se stampvol spreekkamer, wat haar aan ’n worsmasjien laat dink, wag. Dis winter en soms hoes iemand. En sy dink: “Verlede week nog het gehoop ek kry nie verkoue nie.” Hierdie bedrieglik eenvoudige sin het aan my die werklikheid van ’n kankerdiagnose tuisgebring. Hoe normaal alles nog die een oomblik kan wees en net die volgende oomblik moet jy veg teen ’n doodmaaksiekte.

Rust temper die kliniese warboel van lewensveranderende mediese afsprake, moeilike besluite rondom behandeling, duisende vorms invul, ingrypende chirurgie, uitmergelende chemo, bestraling, borsrekonstruksie, ens. met egte vrouwees-oomblikke soos byvoorbeeld wanneer sy vertel hoe belangrik dit vir haar was om altyd op haar heel beste te lyk voor ’n afspraak of prosedure. Die eerste keer toe sy ná die mastektomie liggies dáár raak, voel sy “’n kale vlakte waar rightie eens was”. En sy besef: “Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. Ek vóél dit in elke atoom waaruit ek bestaan. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.”

Sy vertel van die pyn wat in golwe kom, dreineringspype, naalde, sponsbaddens, prosteses, mastektomiebra’s, haarverlies, pruike, ens. Sy het egter besluit dat sy nie “sommer net gaan boedel oorgee nie”. Operasie Kankergatskop het begin. Sy skryf en leer dans en lééf haar lewe so tussendeur die reuse omwentelinge en newe-effekte wat haar stryd met kanker ontketen het. Sy vertel van ander moedige kankerstryders wat sy leer ken, van mediese personeel wat die ekstra myl loop, en van vrywilligers wat alles in die stryd werp om kankerlyers by te staan. Bowenal is sy dankbaar dat sy toegang het tot goeie mediese sorg en ’n ondersteuningstelsel het in haar man, haar familie, vriende en kollegas, terwyl baie ander kankerpasiënte nie so bevoorreg is nie.

Ek beveel hierdie boek heelhartig aan vir enige iemand wat met kanker gekonfronteer word, hetsy omdat jy of iemand na aan jou daarmee gediagnoseer is. Dis ’n verhaal wat jou aan die hart sal gryp en jou oë sal laat oopgaan.

Meer oor die skrywer: Madelein Rust is ’n topverkoper spanningsverhaalskrywer, bekroonde kortverhaalskrywer en gewilde motiveringspreker. Haar publikasies sluit in: 13de kaart, Monstersaad, Bloedlyn, Moordhuis en Lam ter slagting.

Kanker schmanker word deur LAPA Uitgewers uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

Lees hier meer oor People Living with Cancer.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ina ·

Sy is gelukkig om haar storie te vertel. My skoonsus was blakend gesond, die eendag rugpyn die volgende dag maagkanker wat versprei het soos ‘n kersfeesboom wat se liggies aangesit word, en 6 weke later oorlede. Ons kon nie eens baai sê nie, want toe word sy nog vol chemo gepomp en was 5 van die 6 weke in die hospitaal op pype en drips en goeters. Ek mis jou mielie. Sterkte Madelein…benut jou 2de kans

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.