Boekresensie: Kieme: Bose bakterieë, woeste virusse en vieslike fungusse

Kieme: Bose bakterieë, woeste virusse en vieslike fungusse deur Steve Mould word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Hierdie leersame niefiksie sagtebandboek in ’n gerieflike groot formaat is geskik vir kinders sewe jaar en ouer. Die publikasie stel die jongspan bekend aan die wonderwêreld van mikrobiologie waar bakterieë, virusse, fungusse, alge, protosoë en archaea – wat natuurlik nie met die blote oog waarneembaar is nie, maar slegs onder ’n mikroskoop – floreer.

Jong wetenskaplikes sal hulle verlustig in die wonderlike foto’s, grappige karakterillustrasies en verstommende feite wat die wonderwêreld van ’n piepklein, grillerige en fantastiese wetenskap omskryf. Interessante inligting, soos dat die chemiese stowwe binne-in die spesiale bakterieë wat in stompstert-pylinkvisse leef, hulle laat gloei, maak dat geen leser hierdie fassinerende boek maklik sal neersit nie. Die boek bevat 30 hoofstukke plus ’n inleiding en handige woordelys en indeks. Van die hoofstukke se opskrifte is: Jou liggaam se verdediging, Die storie van antibiotika, Bakterieë met superkragte, Bakterieë aan die werk, Die oorlog teen virusse, Plantvirusse, Megamuf, Mikrosjefs en Mikrodiere.

Het jy byvoorbeeld geweet dat 99% van alle bakterieë nuttig en geensins skadelik is nie? Ons het bakterieë nodig om kos soos brood en kaas mee te maak, en ook sodat ons liggame optimaal kan funksioneer. ’n Mens dra omtrent 2 kg bakterieë in en op jou lyf saam. Daar is wraggies meer bakterieë in jou mond as wat daar mense op aarde is. Ná 12 uur kan een bakteriesel tot ’n verstommende 70 miljard aangroei en verdeel. Daar kan ook soveel as een triljoen mikrobespesies op aarde wees! Een vreesaanjaende fungus verander selfs miere se gedrag en maak van hulle zombies. Daar is ook ’n klewerige bakterie genaamd Caulobacter crescentus wat drie keer sterker is as supergom.

Die skrywer, Steve Mould, is ’n wetenskapaanbieder en komediant en kan op YouTube gevolg word. Skaf gerus hierdie boek aan vir ’n leergierige kind wat graag meer wil leer oor hierdie interessante veld. Ek het ’n spesmaas dat die boek gereeld geraadpleeg gaan word vir skooltake.

Kieme: Boosaardige bakterieë, woeste virusse en vieslike fungusse word deur LAPA uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.