Boekresensie: Kom ons loop weg

Kom ons loop weg deur Erika Murray-Theron word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Enigiemand wat direk of indirek deur Parkinson se siekte geraak word, sal Kom ons loop weg tegelykertyd soberend én inspirerend vind, maar selfs lesers wat belang stel in hoe ander byna bomenslike uitdagings hanteer, sal daarby baat vind. Ek kan nie genoeg hulde bring aan mense soos onder andere Elise Nel, Juliana Coetzer en nou ook Erika Murray-Theron nie omdat hulle oor die uitdagende omstandighede waarin hulle hul geliefdes moes bystaan (en in Juliana se geval steeds bystaan), geskryf het.

Elise vertel in Ons raaiselpad met alzheimersiekte van die pad wat sy saam met haar man gestap het vandat dié met alzheimersiekte gediagnoseer is tot en met sy dood jare later. Juliana vertel in Bloedvreemd en Die kind se naam is Anneke van haar dogter wat op sewejarige ouderdom die waterpokkievirus in haar brein gekry het en sedertdien stelselmatig al hoe meer verstandelik gestrem raak nadat Landau-Kleffner-sindroom by haar gediagnoseer is as gevolg van dié virus.

Erika skryf van die uitdagings wat daar op haar en haar man, Tom, gewag het nadat hy in 2001 toe hulle 27 jaar getroud was met parkinsonsiekte gediagnoseer is. Kom ons loop weg vertel van die laaste drie jaar van sy lewe voordat hy in September 2014 oorlede is. Die teks op die agterblad beskryf die boek van 184 bladsye as die rou optekening van saamleef met ’n geliefde met parkinsonsiekte: die ervaring om die fisieke en intellektuele aftakeling van jou lewensmaat te aanskou, die fisieke eise wat met die versorging van so iemand gepaard gaan, en die emosionele inspanning wat dit kos om jouself te staal teen dramatiese en stadige verlies.

Op bladsy 10 vertel Erika: “Ons cope. Ons kry swaar. Ek maak ’n lêer op my rekenaar oop. Dit kry ’n kodenaam. Eendag sal ek net “delete” druk. Dis net vir my eie oë bedoel. Maar iéwers moet ek nou kan uitpraat. Iéwers moet ek nou kan eerlik wees. […] Ek kopieer gedurende die volgende maande en jare sommer alles oor Tom se parkinsonsiekte in daardie lêer. Briewe rakende hom wat ek gekry het en gestuur het, verslae, insigte, inligting. Emosies: woede, hartseer, deernis, verset, hoop, magteloosheid.” Op bladsy 11 skryf sy hoe sy onlangs besef het dat ’n verwerking van die persoonlike optekening van haar ervaring van die laaste deel van Tom se siekte net miskien vir ander in ’n soortgelyke bootjie wel iets mag beteken, al was sy bang dit sou ook ten koste van haarself en dalk haar familie wees. Sy wens op bladsy 106 dat gedagtes sommer direk kon skrif word, so moeg was sy. “Mens krap net bolangs aan wat jy eintlik wil sê. Woorde gee net so ’n klein, en dan eensydige, deel van die prentjie.”

Erika se vertelling is ontblotend eerlik en intiem. Dit is juis waar die hart van Kom ons loop weg vir my as leser lê, want hoewel Erika nie die uitdagings as ligtelik afmaak nie, trap sy ook nie in die slagyster om dit te verromantiseer nie. Sy beskryf dinge soos dit was sonder om doekies om te draai, maar met ʼn byna tasbare deernis. Hierdie deernis, die onbaatsugtige liefde en erbarming, en die uithou en aanhou het ek ook in Elise en Juliana se boeke raakgelees. Ek versorg self al die afgelope drie jaar my ma wat aan demensie ly en boonop paranoïes en psigoties is. Dit verg geweldig baie aanpassing, inspanning en uithouvermoë. Maar mens het lief, ten spyte van. En mens versorg en gee om, want wat as dit jý was wat van liefdevolle versorging afhanklik was. Jy doen immers aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Die menslike psige kan vele uitdagings te bowe kom wat geweldige opofferinge verg. Ons lees van helde wat veldslae gewen het. Maar ons vergeet soms om die duisende onbesonge helde oral om ons raak te sien – diegene wat teen aftakelende siektes stry en húlle wat hierdie mense, dikwels geliefdes, versorg en bystaan. Lees Erika se Kom ons loop weg en sien dit nie net as ’n vertelling van Tom se laaste lewensjare en haar ervaring daarvan nie, maar ook as ’n viering van hoe mense bo hulle omstandighede kan uitstyg en die beste daarvan maak, ongeag.

Meer oor die skrywer: Erika Murray-Theron het in 2002 die gesogte ATKV-prys vir gewilde prosa ingepalm met Maria. In 2007 word ’n Tapisserie met klein diere as die wenner in Sanlam/Insig/Tafelberg se Groot Roman-wedstryd aangewys. Kaalvoet oor die berg (2003), Verblyf (2007) en ’n Skerfie glas (2018) verskyn by Protea Boekhuis.

Skaf Kom ons loop weg hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.