Boekresensie: Kom ons praat oor die huwelik

Kom ons praat oor die huwelik, deur Heinz en Aletté Winckler, word uitgegee deur Lux Verbi.

Kom ons praat oor die huwelik beslaan 216 bladsye en agt hoofstukke getiteld: Ons storie; Die belangrike fondament; Bagasie; Kommunikasie; Seks en intimiteit; Ouerskap; Skoonouers; en Geldsake. Die skryfstyl is ’n gemaklike geselstrant, en die inhoud is boeiend, interessant en definitief wetenswaardig. Die Wincklers deel hulle huwelikservaring openhartig, sonder om doekies om te draai, en sonder om suiker oor die uitdagings van ’n huwelik te probeer strooi. Hoewel hulle nie professioneel opgelei is in huweliksberading nie, het hulle jare gelede die roeping ervaar om hulle huwelik op God se beginsels te vestig. En dis hierdie beginsels wat hulle met hul lesers deel.

Indien jy dalk in jou enigheid sou wonder of hierdie publikasie maar net nóg ’n glanspaartjie se poging is om die kalklig op hulle te vestig deur ’n boek te publiseer, neem gerus maar jou vooroordeel in heroënskou. Die boek is uit ’n onbeskaamde Christelike oogpunt geskryf vir die wedergebore gelowige wat erns maak met God en Hom wil verheerlik deur ’n godvrugtige huwelik te bou. “Natuurlik is daar meer as 15 jaar lange ervaring hierby ingemeng. Die sogenaamde sakke sout wat getroudes saam opeet: die lag, trane, konflik, foute, belydenisse, vergifnis en, natuurlik, die uiters belangrike, onafgebroke groei in die ware betekenis van liefde. Ons deel al hierdie insigte en ervaring om die beurt met jou sodat man én vrou se perspektief op die huwelikslewe ’n stem kry” (7).

Heinz skryf op bladsy 30: “Ons wou ons verhaal met jou deel sodat jy ons beter kan leer ken. En sodat jy kan sien ons is feilbaar en stap ’n pad van geloof en genade met baie hulp. Bowenal wil ons hê jy moet weet in God is daar hoop vir ’n goeie, godvrugtige huwelik. Mag dit jou bemoedig en verseker dat geen sondige verlede of agtergrond te veel is vir Jesus om te herstel nie.”

Ek was beïndruk met hoe die paartjie praktiese voorbeelde uit hulle eie huwelik gebruik om sekere beginsels tuis te bring. Die temas van elke hoofstuk is duidelik met sorg gekies om menige jong mens se vrae oor die huwelik te beantwoord, hetsy dit oor konflikhantering of selfs die versoeking om na pornografie te kyk, handel. Heinz gee goeie raad en wenke vir mans oor hoe om hierdie tipe uitdaging te hanteer. Hulle skroom nie om hulle eie foute aan die groot klok te hang nie, en gee vir God die eer wat hulle vergewe, help en lei. Aletté noem byvoorbeeld hoe sy en haar baie bekende skrywerskoonma, Elsa Winckler, se ouerskapstyl verskil. Elsa het ophou werk om haar kinders groot te maak, terwyl Aletté ’n entrepreneur in hart en siel is en dikwels lang ure moet werk. Toe daar krapperigheid tussen skoondogter en skoonma hieroor ontstaan het, kon hulle die situasie uitpraat, mekaar vergewe en by mekaar leer hoe om mekaar heelhartig te aanvaar en lief te hê, al doen hulle sekere dinge anders.

Meer oor die outeurs:

Aletté Winckler het ’n graad in joernalistiek. Sy is ’n motiveringspreker, liedjieskrywer, TV-aanbieder en stylkonsultant. Haar oordenkingsboek getiteld ’n Palet vol vreugde het in 2021 verskyn.

Heinz Winckler is die wenner van die heel eerste Idols SA-kompetisie. Hy is die hoof van Lovekey Church. Sy eerste boek, In ritme met God, het in 2015 verskyn.

Die Winckler-egpaar het drie seuns en ‘n dogtertjie en woon in Somerset-Wes.

Ek het Kom ons praat oor die huwelik inspirerend gevind en beveel dit heelhartig aan as leesstof vir ou getroudes, jong getroudes en voornemende getroudes.

Skaf jou kopie hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.