Boekresensie: Kop in die wolke in Kromkieriefontein

Kop in die wolke in Kromkieriefontein is geskryf deur Milan Murray en word uitgegee deur Murray & Me.

Ek het tog te lekker gelees aan hierdie verbeeldingryke kinderboek met die allermooiste illustrasies deur die talentvolle Marisa du Toit.

Dis ’n heerlike anderste storie – een wat die jong leser uitdaag om nie net op die alledaagse en die hier en nou te fokus nie, maar om ook te waag om te droom. Dit sê dat dit oukei is om nie net te wees en te doen wat ander mense is en doen nie, maar om jouself te wees. Lig jou kop bo die wolke uit, kyk om jou rond en raak bewus van ’n wêreld buiten jou eie. Dié prenteboek word ook verwerk tot ’n 11-minuut kort-kortfilm wat by vanjaar se Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon gaan word.

Dis verbode in Kromkieriefontein om te dagdroom, te lees en nuuskierig te wees. Hier loop almal krom en met hangskouers en kyk nie verder as hulle volgende tree nie. Hulle fokus net op dít wat voor hulle voete is.

Net juffrou Kiertsregop en ’n vreemde vrou wat sy elke Vrydagmiddag by die huis met sewe verdiepings op die bult besoek, loop penorent.

Die Hoepelkrombende, bestaande uit Dahlia Dolgraag, Bella Babbelbek, Tienie Tjoepstil en Tamara wat soos die bende se Google is, besluit om juffrou Kiertsregop dop te hou en om ook te gaan kyk of hulle die vrou in die bulthuis kan sien. Wat is dié twee se geheim en hoekom loop hulle nie ook krom soos al die ander inwoners van Kromkieriefontein nie?

Die Hoepelkrombende maak ’n toring en loer by die eerste verdieping van die huis in. Hulle klim dapper al hoër en hoër en sien op elke verdieping ’n klein bietjie meer van juffrou Kiertsregop en die vreemde vrou. Die laaste twee verdiepings is egter vol verrassings en die Hoepelkrombende leer ’n baie belangrike les of twee. Van daardie dag af loop die vier avonturiers elke dag ’n bietjie meer regop. Die boek illustreer hoe belangrik dit is om te nuuskierig te wees, te wonder en te droom.

Milan Murray, die skrywer van Kop in die wolke in Kromkieriefontein, besit saam met Charmaine Nolte die kinderboek maatskappy Murray & Me. Milan Murray se verbeeldingryke idioom-reeks bestaan ook uit Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers en Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou. Die reeks help kinders om tussen konkrete en abstrakte denke te onderskei en span idiome kreatief in om kinders met broodnodige lewensvaardighede en waardes toe te rus. Die karakters in die boeke is gewone, nuuskierige kinders wat grootoog probeer sin maak van en inpas in die wêreld waarin hulle leef. Jong lesers identifiseer graag met die situasies wat in die prenteboeke geskets word.

Die idioom-boeke se groot, slapband formaat en droommooi illustrasies is besonder lesersvriendelik en daarop gemik om kinders se aandag gevange te hou. Die boeke vir 5-9 jariges is geskik vir selflees én saamlees, en word ook in Engels en Braille uitgegee. Daar is ook ’n opwindende idiome bordspeletjie en groetekaartjies wat jy in die grond kan druk en waaruit ’n blom- of kruieplantjie sal groei.

Besoek https://murrayandme.co.za/ vir meer inligting asook waar om die boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.