Boekresensie: Kortpad-Afrikaans

Kortpad-Afrikaans: ’n Basiese grammatika geskryf deur Rina Loader, Tobie van Dyk en Charlene Human word uitgegee deur Sun Press, ’n druknaam van African Sun Media.

Dit was vir my as taalpraktisyn ’n heerlike ondervinding om deur my eksemplaar van Kortpad-Afrikaans te blaai. Ek was sommer gou verdiep in wat prof. Wannie Carstens (buitengewone professor, NWU Skool vir Tale) “’n uiters gebruikersvriendelike tweetalige kontrolebron oor daardie aspekte wat die lees, skryf en praat van Afrikaans ontsluit” noem. Prof. Pamela Maseko (uitvoerende dekaan, NWU Fakulteit Geesteswetenskappe) beaam dat die praktiese grammatikagids “’n volledige en besonder verhelderende gids tot die Afrikaanse grammatika is”.

Dit is nie net taalwerkers wat hierdie taalhulpbron vir taalaanleerders en taalvaardiges van waarde sal vind nie. Dosente, onderwysers en selfs hoërskoolleerders en universiteitstudente sal hierdie bondige en logies uiteengesette boek waardeer. Eintlik sal enige iemand – leek of kenner – met ’n liefde vir Afrikaans en wat graag hulle taalvaardigheid wil opskerp, hierdie boek geniet en gereeld na verwys.

Kortpad-Afrikaans is tjokkenblok vol breedvoerige en duidelike verklarings en praktiese voorbeelde. Die uitleg is netjies en slim gedoen om leesgemak te verseker – daar word van kleure, pyltjies en ander kreatiewe metodes en grafika gebruik gemaak om die inhoud so toeganklik moontlik aan die leser te bied. Opsommings is ook in Engels vir diegene wat daarin geïnteresseerd is om Afrikaans aan te leer of te onderrig. Daar is ook plek vir eie notas.

Kortpad-Afrikaans beslaan 200 bladsye en sewe hoofstukke. Die hoofstuktitels is: “Oor Afrikaans”, “Afrikaanse klanke”, “Om reg te skryf”, “Om woorde te skep”, “Woordsoorte”, “Verskillende soorte sinne” en “Taal en betekenis”. Ek het veral hoofstuk een baie geniet, want dit beskryf die oorsprong van Afrikaans as erfenis uit Europa, Asië en Afrika. Dit verduidelik meer oor die onderwerp aan die hand van hofies soos “Wat is Afrikaans”, “Afrikaans in konteks” en “Voetspore van Afrikaans”. Figuur 11 op bladsy 13 toon die verskillende variante van Afrikaans. My mond het oopgehang. Afrikaans is so ’n ryk en geskakeerde taal. Behalwe Standaardafrikaans, is daar onder meer ook Slawe-Afrikaans, Moesliemafrikaans, Genadendalse Afrikaans, Dorslandafrikaans, Bolandse Afrikaans, Richtersveldse Afrikaans en Overberge Afrikaans.

My enigste kritiek of bekommernis is dat die sagtebandomslag ná slegs enkele kere se gebruik begin omkrul het. ’n Hardeband sal die koste van die boek egter beduidend opstoot. Omdat ek hierdie boek baie gaan gebruik, sal ek dit met plastiek oortrek en ’n stewige kartonbladsy aan die agterkant van die voorblad inskuif. Dit behoort my kopie in ’n perfekte toestand te hou.

’n Ruim bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die publikasie van hierdie tweede uitgawe van Kortpad-Afrikaans, ’n uitgebreide naslaanwerk, moontlik gemaak. Die Noordwes-Universiteit sowel as die interinstitusionele Sentrum vir Taalontwikkeling en Assessering (Icelda) en die Universiteit van Wene, Oostenryk, het ook gehelp om die publikasie moontlik te maak.

Rina Loader is verbonde aan die Universiteit van Wene, Oostenryk, terwyl Tobie van Dyk en Charlene Human verbonde is aan Noordwes-Universiteit.

Bestel gerus jou kopie van Kortpad-Afrikaans (sagteband teen R450 (ISBN 9780620978934) of e-boek teen R240 (e-ISBN 9780620978941) direk van African Sun Media by [email protected] of koop dit aanlyn by onder meer Takealot en Amazon. Jy kan ook jou naaste boekwinkel vra om dit namens jou te bestel indien hulle dit nie reeds in voorraad het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.