Boekresensie: Kruis van liefde, ʼn Paasspel

As ʼn mens dink hoe sentraal die kruisgebeure in die kerkkalender staan en aan die magdom musiek – vir kore én soliste – wat deur die eeue tot stand gekom het om die lyding van Christus te vergestalt, is dit eintlik vreemd dat daar in Afrikaans so min geskik vir tablo’s en selfs kleiner produksies is.

Ons is hoeka weer op daardie punt in die jaar waar kerke begin voorbereidings tref vir Pase en vanjaar hoef niemand te skarrel om geskikte teks in die hande te kry nie.

Verlede jaar het Kruis van liefde, ʼn Paasspel by Naledi verskyn, ʼn kort dialoogteks deur Hans du Plessis en Bernard Odendaal, twee gevestigde digters en onderskeidelik die voormalige en huidige direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom.

Die publikasie van 35 bladsye bestaan uit poësietekste oor die kruisiging en sluit sewe verse oor Jesus se kruiswoorde in, geskik vir koor of soliste.

Die oogmerk met die aanbieding is ʼn eietydse weergawe van die gebeure, só geskryf dat gemeentes, skole of wie ook al die teks kan gebruik en aanpas vir Paasvierings.

Aan die woord is twee Bybelse figure, Barabas, ʼn oorblufte jong misdadiger wat pas deur Pilatus vrygelaat is, en Salome, ʼn fiktiewe naam vir die jong vrou wat vroeër ʼn prostituut was, maar toe vir Jesus leer ken het en Hom begin volg het. Die stemme van Pilatus, vroue en ʼn skare word ook gehoor en daar is aanduiding van tekste wat geskik is vir voordrag deur soliste of ʼn koor.

Odendaal was verantwoordelik vir die liedere en Du Plessis vir die bindingsteks. Wat in die liedere poëties klink, word in die dialoog gewoon spreektaal – soos waar Barabas aan die woord is waar Jesus weggelei word om in sy plek gekruisig te word: “Shame – en jippie vir my!”

Anders as met onder meer die Bach-passies is Kruis van liefde bondig en kan die Paasspel gemaklik in minder as ʼn uur aangebied word.

Benewens die moontlikheid van ʼn voorlesing of gedramatiseerde aanbieding is daar ook ʼn oratorium-weergawe beskikbaar. Aan die hand van die Du Plessis-en-Odendaal-teks het die Pretoriase komponis Franco Prinsloo ʼn weergawe vir kamerkoor en -orkes verwerk. Boonop is daar as ʼn derde opsie liedtoonsettings deur Lizanne Barnard beskikbaar wat ʼn produksie as musiekteater moontlik maak.

Die wins van Kruis van liefde is die rek-en-krimp-moontlikhede wat dit bied – van ʼn volledige produksie met videoprojeksies (met nuttige leidrade in die teks) en wat nie al nie tot ʼn voorlesing as gestroopte aanbieding vir die kleinste groep of gemeente.

Kruis van liefde deur Hans du Plessis en Bernard Odendaal word uitgegee deur Naledi en kos R120.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.