Boekresensie: Laat die potte prut

Laat die potte prut deur Piet Marais & Frik Oosthuizen word uitgegee deur Human & Rousseau.

Potjiekosliefhebbers se monde sal water by die aanskoue van hierdie versameling lipleklekker resepte. Die boek is geskoei op die trefferprogram, Laat die potte prut, wat op VIA uitgesaai word. Dit bied die heel beste resepte (meer as 80!) uit die eerste drie reekse. Potjiekos is gesellige kuierkos en Suid-Afrikaners is veral lief vir kos op die kole. Wat is nou lekkerder as om op ’n buitevuur ’n potjie te laat prut terwyl jy ’n bier knak of ’n glas wyn geniet? Potjiekosgeregte is uiters veelsydig en kan opgedis word as bekostigbare gesinskos of uithaler onthaalkos. Die watertand resepte maak voorsiening vir elke smaak, begroting en okkasie.

In die inleiding van Laat die potte prut is die aanbieders, Piet en Frik van Santa Anna’s, dit eens: “’n Mens kan enigiets wat jy in die kombuis berei, beter doen oor die kole. Niks kan die fyn rooksmaak vervang wat kom van kole wat teen die regte temperatuur brand nie.” Hulle het in die laaste ses seisoene van die televisieprogram “meer as 1 500 potjies, gemaak deur sowat 100 deelnemers”, geproe en is dus volwaardige potjiekenners wat nie skaam is om wenke en selfs waarskuwings uit te deel nie.

Laat die potte prut bevat 192 bladsye propvol basiese resepte soos verdikkers en aftreksels en ook windmakerige geregte soos geroomde mossels en waterblommetjiebredie. Voorpotte moet die maaltydgangers se aptyt opwek vir die hoofmaal en moet dus nie te swaar en ryk wees nie. Volstruiskerrie, geurige hoendervlerkies met ’n byt, romerige tamatie-seekossop en egte Texas chili con carne sal jou gaste behoorlik lus maak vir meer.

Hoofpotte is natuurlik die spil waarom die hele ete draai. Gevulde varkdikrib, lamstjopkerrie, eisbeinpotjie en beesstertpot met room sal jou gaste hulle vingers laat aflek. Bypotte bevat disse wat saam met die hoofpot bedien word. Chakalaka-potbrood, Boston-stampmielies en boontjies, romerige sampioenrisotto met truffelolie en gebraaide-blomskoolslaai sal perfek werk saam met die hoofdis.

En dan is daar die Napotte – heerlike nageregte om ’n onvergeetlike maaltyd mee af te sluit. Kersvrugte-kluitjies met kaneel-en-brandewynstroop, Amarula-malvapoeding, pekanneuttert en sjokolade-toringkoek sal voorwaar die spreekwoordelike kersie op die koek wees.

Die stilis, Aletta Lintveldt, en fotograaf, Myburgh du Plessis, se aptytwekkende foto’s van die potjiekosgeregte het hierdie waarderende leser en potjiekosliefhebber dadelik die vuur laat aansteek en die gietysterpot uit die kas laat haal. Vanaand smul die Viljoens aan tamatiebredie-potjie met pietersieliesous. As potjiekos jou naweekbederf is, skaf gerus hierdie boek aan en verlustig jou aan al die heerlike geregte.

Laat die potte prut is by toonaangewende handelaars beskikbaar.
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R265-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.