Boekresensie: Landbou Boerekos van die plaas na die tafel

Landbou Boerekos van die plaas na die tafel deur Arina du Plessis word uitgegee deur Human & Rousseau

Arina du Plessis is die kosredakteur van Landbouweekblad en die skrywer van Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel. Dié kookboek bevat van die gewildste resepte wat in Landbouweekblad se trefferkostydskrif, Landbou Boerekos, en ook Landbouweekblad se gereelde kosrubrieke, verskyn het.

Daar is 300 maklike resepte en pragtige volkleurfoto’s wat jou nooi om kombuis se kant toe te staan om die liplekker disse en gebak na hartelus te beproef. Die heerlike resepte is alfabeties ingedeel volgens plaasprodukte: van aarbeie tot wortels – alledaagse, gesonde bestanddele wat geredelik beskikbaar is. Daar word ook meer inligting oor die verskillende produkte gegee, ook moets en moenies en plantwenke.

Du Plessis het as plaasmeisie in die Ceres-distrik grootgeword op die familievrugteplaas. Sy kén van ’n bedrywige plaaskombuis en sy is vertroud met die eiesoortige hartklop van die landboubedryf. Haar kennis oor die platteland se kostradisies, haar liefde vir die plaas en sy mense, en haar instinktiewe benadering tot die herinterpretasie van ou, geliefde geregte tot hedendaagse, voedsame maaltye wat die lieflike geure en smake van gister vasvang, het aanleiding gegee dat Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel ’n spogproduk is wat met trots op jou kombuisrak uitgestal kan word.

Die resepte moet verkieslik met plaasvars produkte voorberei word. Só word daar ’n band gesmee tussen kosproduseerders en kosliefhebbers wat daarvan hou om kos voor te berei én lekker te smul. Du Plessis stel dit onomwonde: “Dit is danksy boere en plaaswerkers dat elkeen van ons daagliks by ’n winkel kan instap en die kos wat ons wil hê, van die rakke af haal.” Sy skryf ook: “Die woord ‘boerekos’ beteken baie dinge vir baie mense. Dis die term vir van ons tradisionele erfkos, soos bobotie, melktert, skuinskoek en waterblommetjiebredie, ja. Dis ook die term vir kos wat mense destyds gemaak het met dit wat op hul lande gewei en in hul akkers gegroei het. Die kos wat jy maak met dit wat jy tot jou beskikking het. Met plaasprodukte. Eenvoudige, goeie kos sonder tierlantyntjies.”

Hier volg ’n lys van slegs enkele produkte in die register – ek gee ook ’n voorbeeld van ’n lekker resep daarby soos in die boek vervat:

Aarbeie: aarbei-tralietert
Aspersies: spek-en-aspersie-souttert
Beesvleis: beesvleisbredie
Beet: rooifluweel-beetkoek
Dadels: dadelmuffins
Druiwe: bakkersvlatert met toffiedruiwe
Eiers: eiers gebak in bolognese
Groenbone: groenboontjiebredie
Hoender: hoenderkebabs met byt
Kersies: Ma Rinie se kerskoek
Kruie: vinnige kruie-en-kaaspanskons
Lamsvleis: lamsnekkerrie met botterbone
Melk en Room: melktertkoek
Pampoen: pampoenpoffertjies met karamelstroop
Sampioene: sampioen-en-roomkaasrol
Tamaties: klassieke bolognesesous
Uie: uie-en-kaastertjies
Varkvleis: varkvleispot met rooibos, droëvrugte en piekeluitjies
Waterblommetjies: waterblommetjiebredie
Wildsvleis: blitsige wildspastei met oorgooikoors
Wortels: geroosterde babawortelslaai met koperpennie-slaaisous

Ek het die smullekker skaapvleispastei (dié dis pronk ook op die voorblad!) op bladsy 122 voorberei. My huismense was gaande daaroor! Die slap deeg wat oor die vleisvulsel gegooi en dan gebak word, is ’n wenner. Ek gaan dit beslis op ander vulsels ook probeer. Ek het die heerlike heuningkluitjies op bladsy 87 daarby bedien as nagereg.

Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel is by toonaangewende handelaars beskikbaar en sal die ideale kersgeskenk wees vir enige liefhebber van boerekos. Dis ook ’n goeie idee om ’n aanstaande bruid daarmee te verras op haar bruidstee. Skaf gerus hierdie resepteboek aan vir jouself ook. Ek is baie bly oor my kopie en het al ’n paar resepte daarin opgesoek.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R320,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.