Boekresensie: Lang pad onnetoe

Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds (vertaal deur Nathan Trantraal) word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Soms lees ’n mens ’n boek wat jou soos ’n muil in die maag skop. Jason Reynolds se multi-bekroonde Long way down, meesterlik vertaal in Kaaps as Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal, is só ’n boek. Die vertelstyl is kort, kragtig en eksplosief.

Elke vurige woord is versigtig en oordeelkundig geweeg om die maksimum impak te maak en die storie so rou en eerlik as moontlik uit te beeld. Die formaat herinner aan ’n bundel gedigte en die bladuitleg is slim gedoen om die atmosfeer ook visueel aan die leser oor te dra.

Die vyftienjarige Will druk ’n gelaaide pistool agter by sy jean in en klim in ’n hysbak op die sewende verdieping met slegs één doel voor oë – om sy geliefde broer, Shawn, wat die vorige dag op straat vermoor is, se dood te wreek. Dis immers hoe dinge in sý wêreld werk – jy mag nie huil of stories aandra nie. Jy neem wraak. Altyd.

“As iemand wie jy voo lief is
vemoor wôd,
kry die
moodenaar
en vemoor
hom.”

En Will wéét wie sy broer doodgemaak het. “Maar bullets mis. Jy kan die verkeerde man skiet. En daa is altyd ’n anne ou wat Die Rules volg …”

Op elke verdieping waar die hysbak stop, klim iemand in wat iets met die geweld in die buurt te doen het en op een of ander manier ’n raakpunt met Will en die huidige tragiese gebeure het. Elkeen se onthulling pas soos ’n legkaartstukkie in by die groter prentjie wat allermins is wat Will gedink het dit was. Will word in sestig naelbyt sekondes gekonfronteer met sy voorneme om sy broer se moordenaar dood te skiet. Wanneer die hysbak uiteindelik tot stilstand kom, moet Will die belangrikste besluit van sy lewe neem.

Ek het nie die briljante einde verwag nie en Lang pad onnetoe gaan nog lank by my spook. Die boek klits moeiteloos die leser se emosies in ’n warboel. Die storie gee ’n ysigwekkende blik op vuurwapen- en bendegeweld. Dit handel ook oor die spiraalgevolge van blindelings lojaal wees teenoor dít waaraan jou identiteit gekoppel is. Dit leer jou om vir jouself te dink, want op die ou einde dra jý die verantwoordelikheid en betaal jý die gevolge. En die geveg gaan nie aan die anderkant van die graf nie. Dit gaan om wraak, maar dit gaan ook oor keuses en gevolge. Hierdie is die tipe boek waar jy van die sinne oor en oor lees en jou verlustig aan die trefkrag daarvan. Dis verstommend hoe aktueel en herkenbaar die storielyn vir Suid-Afrikaanse lesers is.

Die outeur, Jason Reynolds, woon in Brooklyn, New York. Hy is een van die bekendste en mees bekroonde jeugboekskrywers ter wêreld. Nathan Trantraal, die vertaler, het in 2017 die jongste ontvanger van die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs geword. In 2018 is ’n bundel met sy weeklikse rubrieke vir Rapport gepubliseer as Wit issie ʼn colour nie.

Slegs enkele van die vele bekronings wat Long way down ontvang het:

  • Los Angeles Time Book Prize-wenner vir jeugliteratuur
  • Edgar Award-wenner vir beste jeugliteratuur
  • Wenner van die Walter Dean Myers-toekenning
  • Parents’ Choice Gold Award-wenner

Lang pad onnetoe is by toonaangewende handelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.