Boekresensie: Leef voluit en vreesloos

Leef voluit en vreesloos deur Joyce Meyer word uitgegee deur Struik Christian Media.

Ek het hierdie sakpas Afrikaanse weergawe van Meyer se The Confident Women as welkome opbouende en bemoedigende leesstof ervaar. Dit was goed om weer herinner te word dat vroue (getroud én enkellopend) besonderse rolle het om te vertolk – verál in hierdie uiters uitdagende omstandighede waarin die wêreld verkeer.

Meyer, wat as kind seksueel mishandel is, begelei haar lesers op ’n kenmerkende reguit en praktiese wyse om vrees te oorkom en met vertroue ’n opwindende, betekenisvolle en doelgerigte lewe te omarm. Die agterbladteks wys daarop dat Leef voluit en vreesloos die resultaat is van haar eie reis van onsekerheid en selfhaat na selfvertroue. Sy put ook uit haar interaksie met vroue deur haar bediening. Nie net deel sy staaltjies uit haar eie en ander se lewens nie, maar sy verwys ook na voorbeelde in die Skrif wat lesers gerus ter harte kan neem. Dit is juis hierdie interessante en inspirerende vertellinge wat ’n impak op die leser maak, want dit dra daartoe by dat jy die boodskap ontvang én interpreteer op ’n wyse wat vir jou sin maak en wat jy dus geredelik kan en wil toepas.

Leef voluit en vreesloos beslaan 337 bladsye en is opgedeel in 17 hoofstukke wat bestaan uit Deel 1: Selfvertroue – ’n Godgegewe geskenk en Deel 2: Leef vrymoedig en sonder vrees. Meyer skryf in die Inleiding: “God het ’n wonderlike plan vir jou lewe en ek bid dat die lees van hierdie boek jou sal help om dit meer as ooit aan te gryp. Jy kan jou kop hoog hou en vol selfvertroue wees oor jouself en jou toekoms. Jy kan waagmoedig wees en begin om nuwe dinge te doen – selfs dinge wat geen man of vrou nog ooit gedoen het nie. Jy het alles wat jy nodig het, en jy kan!” Sy beklemtoon dat God se begeerte vir jou is dat jy vrymoedig, waagmoedig, vol selfvertroue, gerespekteerd, geëerd, begunstig, in aanvraag, en die belangrikste van alles, geliefd, moet wees.

Meyer begin hoofstuk 1 deur te verduidelik wat selfvertroue beteken. “Ek glo selfvertroue is om positief te wees oor wat jy kan doen – en jou nie te bekommer oor wat jy nié kan doen nie. ’n Vrou met selfvertroue is ingestel om te leer, want sy weet haar selfvertroue laat haar toe om die lewe se deure in afwagting oop te maak om te sien wat aan die ander kant wag. Sy weet dat elke nuwe onbekendheid ’n kans is om meer van haarself te leer en haar vermoëns te leer ontdek.” Só, al geselsend, bemagtig sy vroue om in hulleself te glo en dat hulle tot alles in staat is deur Hom wat hulle die krag daartoe verleen. “Selfvertroue laat ons toe om die lewe waagmoedig, vrymoedig en eerlik aan te pak” (6) en “Wanneer ons op God en sy liefde en sy goedhartigheid vertrou, kan ons leer om met selfvertroue te leef en die lewe te geniet wat Hy vir ons bestem het” (7).

Meyer rus haar lesers toe om die struikelblokke na ’n lewe van selfvertroue te identifiseer en te oorkom. Sy leer hulle om selfversekerd “nee” te sê en nie in die slaggat te trap van mededinging of om ander tevrede te wil probeer stel nie. Sy gesels onder meer ook oor die verskeidenheid vrese en bekommernisse wat vroue so dikwels lamlê en gee raad oor hoe om dit te oorwin sodat hulle moedig kan word.

Ek beveel Leef voluit en vreesloos aan vir elke vrou wat ’n hupstoot nodig het wat haar selfvertroue betref. Ek het heerlik hieraan gelees en voel geestelik verryk.

Meer oor die skrywer: Joyce Meyer is ’n New York Times-topverkoperskrywer. Sy het reeds 130 boeke geskryf wat in 149 tale vertaal is. Haar geestelike TV- en radioprogram, ’n wêreldwye mediabediening getiteld Enjoying Everyday Life, bereik miljoene mense.

Bestel jou kopie van Leef voluit en vreesloos hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.