Boekresensie: Leeg

Leeg is geskryf deur Marlena du Toit, Braam Klopper en Justine Pike

Leeg is ’n praktiese gids vir ouers wat ’n miskraam of stilgeboorte beleef het. Die boek is opgestel deur ’n dokter, ’n pastoor en ’n pastorale terapeut wat met kundige raad en deernis poog om elke ma en pa wat worstelvrae het en magteloos voel, by te staan op hulle pad van rou en uiteindelik aanvaarding. Die mens is immers liggaam, siel en gees en swangerskapverlies raak élke faset van ons menswees. Leeg herinner die gelowige aan God se troos ná swangerskapverlies of miskraam.

In deel een van die boek wat uit 304 bladsye bestaan, bespreek dr Marlena du Toit die mediese feite rondom die oorsake van swangerskapverlies en die behandelingsopsies wat beskikbaar is. Sy hanteer ook vrae soos “wat word van my baba se oorskot?” en gee raad t.o.v. versorging ná ’n verlies sowel as voorkoming en die toekoms. Die mediese inligting word op ’n lesersvriendelike manier weergegee. Haar boodskap is een van hoop en troos.

In deel twee vra pastoor Justine Pike of daar lewe ná ’n miskraam is. Sy deel haar persoonlike ervaring van swangerskapverlies. Sy beskryf hoe gevoelens soos “woede, hartseer, alleenheid, onsekerheid en emosionele doodsheid” gemaak het dat sy haar geloof en familie in ’n stadium opsy geskuif het en selfs selfdood oorweeg het. Sy skryf: “Dit het gevoel of my brein in ’n vleismeul beland het wat teen die spoed van lig beweeg het, en steeds kon ek nie sin van alles maak nie. Die stryd om my geloof was swaarder as die rousmart oor die verlies van my kind. Om hierdie twee prosesse gelyktydig te probeer deurleef, het my totaal uitgeput gelaat.” Sy vertel ook hoe sy ervaar het dat God haar die kans gegee het om ’n ma te wees wat rou, “om net te kon voel en wees”.

In deel drie behandel ds Braam Klopper die rouproses, geloofsvrae en jou beeld van God. Hy gesels oor die begrafnis of roudiens en noem dat miskraam die verlies is wat die meeste misken word. Hy sluit ’n hoofstuk in wat oor rou en depressie handel asook oor hoe jy en jou man afsonderlik én saam julle verlies ervaar. Hy skryf: “Dit kan vir jou en jou maat van onskatbare waarde wees om te besef dat al hanteer en beleef julle jul rou radikaal verskillend, dit heeltemal normaal is.” Gelowiges sal die Skrifgedeeltes wat troos veral van waarde vind.

Deel vier handel oor drie vroue se stories oor hoe hulle deur swangerskapverlies of miskraam gewerk het. Dit sluit ook ’n baie handige gedeelte in oor waar om hulp te kry.

Lees gerus Leeg al het jy dalk nie self deur ’n swangerskapverlies of miskraam gegaan nie. Dit rus jou toe om diegene wat die trauma beleef het, beter by te staan. Die skrywers, almal kundiges op hulle gebied, slaag daarin om nie net feite en inligting deur te gee nie, maar ook om met groot deernis en empatie God se troos ná swangerskapverlies of miskraam oor te dra. Dis ’n boek wat jou aan die hart gryp.

Leeg word uitgegee deur Lux Verbi en is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.