Boekresensie: Leesstof vir feitevrate

As jy van feite hou en graag wil weet hoe dinge werk, sal jy die volgende twee boeke baie geniet.

Vrae en feite vir nuuskierige agies #2

(Riette Hugo) – Penguin Random House

Nuuskierige agies van alle ouderdomme sal hierdie wonderlike boek van 50 hoofstukke of temas propvol vrae en feite terdeë geniet. Die inligting, riglyne en wenke vervat in hierdie lekker dik boek van 159 bladsye is spesiaal deur Hugo vir RSG opgestel om vir die leser ’n opvoedkundige ervaring te bied op ’n prettige en interessante wyse. Die teks is onderhoudend geskryf en daarop gemik om die nuuskierigheid behoorlik te prikkel. Hugo skryf gesaghebbend, onderhoudend en spitsvondig. Daar is selfs ’n woordeskat afdeling na elke hoofstuk om moeilike begrippe te verduidelik. Die gepaste swart-en-wit illustrasies dra ook daartoe by om van die boek ’n heerlike leeservaring te maak. Ek voorsien dat gesinne lekker om die eetkamertafel sal gesels oor die inhoud van die boek.

Van die vrae wat beantwoord word, is: Hoekom is plagiaat verkeerd?, Waarom dra mans vandag nog dasse?, Is daar speelgoed wat met sekere kulture verbind word?, Hoe kan die hof vir klein eise iemand met ’n eis help?, Waarom gebruik mense anaboliese steroïede?, Hoe is DNS-ontleding die eerste keer ingespan om ’n moordenaar vas te trek?, Wat moet jy doen om ’n entrepreneur te word? en Bestaan slawerny vandag nog?

Meer oor die skrywer: Riette Hugo was vir 48 jaar ʼn onderwyseres. Sy het talle taalhandboeke en studiegidse geskryf en is ’n gerespekteerde eksaminator.

Skaf Vrae en feite vir nuuskierige agies #2 hier aan.

Hoe werk dit? 33 Projekte vir slimkoppe

(Carol Vorderman) – LAPA Uitgewers

Hierdie pragboek van 144 bladsye is geskik vir weetgieriege kinders wat graag vrae vra en dinge self beproef. Dit is tjok en blok vol opwindende aktiwiteite en projekte wat tuis gedoen kan word aan die hand van eenvoudige verduidelikings. Dit bied ook meer inligting oor bekende baanbreker-ingenieurs van alle tye. Elon Musk, die Wright-broers en Leonardo da Vinci se inspirerende stories verskyn ook in die boek.

Kinders word aangemoedig om ondersoek in te stel na allerhande interessante dinge soos straalenjins, tonnels, brûe en wolkekrabbers en moeilike vrae te beantwoord. Veiligheid word voorop gestel en ’n simbool by sommige projekte dui aan dat die kind liefs ’n volwassene moet vra om te help.

Die boek beslaan vyf hoofstukke getiteld Briljante boustowwe, Sterk strukture, Magtige masjiene, Fantastiese voertuie en Ongelooflike energie. Voornemende ingenieurs sal ure se vermaak daaruit put om meer te leer oor bv. stoot- en trekkragte, wrywing, hefbome, soorte energie, dryf en sinkvermoë en waterkrag. Hulle kan kleibakstene en selfs plastiek maak, ’n hangbrug en ’n tuimeltrein bou en ook ’n katapult, skepwielboot of sonoond maak (om net enkele projekte te noem). Elke projek word vergesel van mooi kleurfoto’s en illustrasies. Die materiaal vir die projekte is maklik bekombaar.

Verskeie kundiges onder leiding van Carol Vorderman het Hoe werk dit? geskryf. Dit is in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs. Kinders vanaf nege jaar en ouer sal baie baat vind by die boek.

Skaf Hoe werk dit? 33 Projekte vir slimkoppe hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.