Boekresensie: Leierskap 101

Leierskap 101 deur Stephan Joubert en Johan Smith word uitgegee deur CUM Uitgewers

Alles staan of val by die gehalte van leierskap in enige organisasie. Hierdie stelling op die agterblad het onmiddellik my aandag getrek en ek het die hardebandboek van 211 bladsye met groot belangstelling begin lees. Die leser word genooi: “Kom ontdek praktiese hande-en-voete-riglyne, raad en idees om jou te help om die beste leier te wees wat jy moontlik kan wees – vir jouself, jou gemeenskap en vir ons land.”

Nadat ek dié inspirerende boek, wat ’n onapologetiese geestelike strekking het, neergesit het, het ek my verstout deur te wens dat elke persoon in ons land wat ’n leierskapposisie beklee (verál ons parlementslede!) gedwing kon word om ’n kopie daarvan te lees.

Nie net onderstreep die boek “toekomsgerigte realiteite vir innoverende leiers nie”, maar die klem word veral gelê op leierskapfiksheid en diensbaarheid – soos Stephan Joubert, medeskrywer van die boek saam met Johan Smith, tereg opmerk op bladsy 82: “Vergeet van titels; doen net die werk.” ’n Aanhaling van Donald McGannon beklemtoon: “Leierskap is aksie, nie posisie nie.”

Op CUM se webwerf verskyn die volgende kommentaar: “Hierdie unieke blik op leierskap bevestig dat leiers God se gestuurde dienaars is. Deur te kyk na sake soos integriteit, visie, leierskap in die kerk en gehoorsaamheid wys hulle dat leierskap nie ’n lyding hoef te wees nie, maar ’n heerlike en vervullende voorreg.”

Leierskap 101 is opgedeel in 101 hoofstukke wat baie netjies en aantreklik vertoon en maklik lees. Die boodskappe is kort en kragtig en bied heelwat stof tot nadenke. Beide skrywers maak kwistig gebruik van treffende Afrikaanse en Engelse aanhalings en put ook waarhede uit die Skrif met meegaande Skrifverwysings.

Ek het veral gehou van hierdie paragraaf op bladsy 211 en reken dit is van toepassing op elke persoon wat ook in sy of haar persoonlike lewe ’n leier of selfs net ’n doodgewone Suid-Afrikaner in vandag se tyd is: “Leiers sien ’n beter dag raak net anderkant die horison. Hulle oog is op die Beloofde Land hier reg voor hulle. Leiers sien ’n nuwe pad waar ander mense net grond en klippe sien. Hulle sien lewe en hoop waar ander net donkerte en chaos gewaar. Ja, leiers beleef ook hulle eie stryd en onsekerhede. Hulle is nie supermense nie. Hulle is broos en breekbaar. Te midde hiervan hoor hulle egter nuwe toekomsmusiek. Hulle kan hulleself nie help nie; hulle moet eenvoudig begin loop en leef op die nuwe pad wat hulle voor hulle sien. Hulle kan nie nog een dag nutteloos rondsit terwyl die Here hulle harte aan die brand gesteek het met ’n nuwe visie nie.”

Hoe verfrissend om te lees dat alhoewel ‘leierskap ’n werkwoord’ is en leiers dus doeners is, uitbranding nie verpligtend is nie! As leier het ’n mens ook ’n verantwoordelikheid teenoor jouself en jy moet leer om nee te sê wanneer ander meer van jou verwag as wat God doen. Leierskap 101 hanteer onder meer temas soos die invloed wat leiers het, hulle visie en roeping, die daarstelling van goeie grense, spanwerk, die gee van hoop en die hantering van konflik. Dit is ’n kosbare boek propvol lewenswaarhede en -lesse.

Meer oor die skrywers:

Stephan Joubert is buitengewone professor in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is ook ’n navorsingsgenoot in Teologie aan die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland.  Behalwe dat hy ook redakteur is van ’n e-kerk op die internet, is hy bekend as spreker, akademikus en skrywer.

Johan Smith se niewinsgewende maatskappy, VitaAmp, konsentreer daarop om die jeug, ouers, opvoedkundiges, skoolhoofde, predikante en lidmate te bedien. Hy reis graag en besoek skole en kerke landswyd as prediker en spreker. Hy is ook die skrywer of medeskrywer van meer as 30 boeke.

Leierskap 101 kan hier aangekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.