Boekresensie: Liewe Heksie en die helikopter

Liewe Heksie en die helikopter is geskryf deur Verna Vels en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Hierdie alombeminde en by tye skaam en vergeetagtige karaktertjie met die goeie hart het geen bekendstelling nodig nie. Die lekkerlees-teks en prettige illustrasies van Liewe Heksie en die helikopter laat oud en jonk naderskuif om hulle te verlustig aan nóg een van die immergewilde en dierbare heksie se heerlike avonture. Die opwindende en kleurvolle sagteband prenteboek van 32 bladsye is gebaseer op die oorspronklike verhaal van Verna Vels. Die talentvolle kinderboekskrywer en -illustreerder, Vian Oelofsen, se prentjies laat die storie lewe.

Die vername Karel Kat kom kuier in Blommeland. Hy vlieg ’n splinternuwe goudgeel helikopter. Liewe Heksie sukkel mos so bietjie om groot woorde uit te spreek en noem die helikopter ’n meuliekopter. Sy geniet die helikopterrit oor Blommeland saam met Karel, maar reken haar besem is darem nie so lawaaierig nie. Koning Rosekrans kry ook ’n beurt om in Karel se helikopter te vlieg. Maar o wee, dan beland Karel en die koning in groot moeilikheid wanneer die helikopter ’n noodlanding moet doen! Liewe Heksie moet die koning red, al is sy oortuig dat hy bietjie te vet is vir haar besem.

Mens kan nie anders as om te skaterlag vir al Liewe Heksie se snaakse sêgoed nie. Sy weet nie veel van takt en diplomasie af nie en haar eerlikheid laat haar telkens in die sop beland. Gelukkig werk dinge uiteindelik mooi uit en is sy die heldin van die verhaal. Die dialoog is gepas en baie spitsvondig. Die spanningsoomblikke in die verhaal bou op tot ’n bevredigende einde. Die Liewe Heksie-stories is tydloos en hedendaagse kinders sal haar avonture amusant vind.

Meer oor die outeur: Verna Barbara Robertson Vels word op 13 Junie 1933 op Reitz gebore en sterf op 81-jarige ouderdom op 21 Augustus 2014. Die gewilde Liewe Heksie-stories is eers as radioverhale aangebied. Die eerste verhaal is in 1961 op Siembamba, ’n kinderprogram, uitgesaai. Liewe Heksie en die helikopter word deur Human & Rousseau uitgegee. Nóg boeke in die reeks is Liewe Heksie en die Silwer Roos en Liewe Heksie en die sterretjieskombuis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JJ ·

Skrywers wat die rugry van suksesvolle skrywers. Sal nie ondersteun nie.

Rikku ·

Ek het n Liewe Heksie Langspeel Relord
Is dit enigeiets werd ?

Joey ·

@Rikku, glad nie. Onthou die goue reel : Aanvraag/Aanbod, en net omdat dit “oud” is, beteken nie dis enige iets werd nie.

Neels ·

@Rikku, ongelukkig nie, ek kan nou op Google klim en een koop vir R31. Stem saam met Joey hier bo, dis nie n collectors item of enige iets nie, dis net ouerig ook, en dis vollop, in massas gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.