Boekresensie: Maak jou eie video’s met ‘Video-idees’

Video-idees is geskryf deur Tim Grabham en is in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs. Dit word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Deesdae kan enigiemand video’s maak, hetsy vir YouTube, tuisvermaak of klasprojekte. Danksy die groei in selfoontegnologie het jy nie eens duur videokameras nodig nie, die video-funksie op jou selfoon is meestal voldoende. Video-idees is ’n praktiese gids vir jong videograwe wat wil leer hoe om hulle eie video’s te maak, te redigeer en veilig aanlyn te plaas op verskeie digitale platforms. Die gids beslaan 80 bladsye vol opwindende idees, praktiese wenke, raad en allerhande kortpadtruuks.

Video-idees is stampvol inligting wat die video-entoesias sal inspireer om fantastiese videoprojekte aan te pak en deur te voer – van die draaiboek tot die finale spogproduk. Die videomaakproses van draaiboek tot skerm is ’n baie interessante en al hoe meer gewilde stokperdjie wat enige tyd, enige plek beoefen kan word. Die lekkerste lekker is natuurlik om ná die tyd jou video met vriende en familie te deel.

Kinders (nege jaar en ouer) sal die tegnieke vir beligting, kamerahoeke, klankeffekte en bewegende kameraskote leersaam en prakties vind. Die boek verduidelik mooi wie in jou span hoort en wat elkeen se pligte is sou jy ’n video aanpak wat meer as een persoon verg om te maak. Dink maar aan die onderskeie funksies van die vervaardiger, regisseur, draaiboekskrywer, klankopnemer, stilis, stelontwerper, akteur, ens. Hoe kry jy die beste klank en wat op aarde is ’n windskut? Daar is heelwat dinge om in ag te neem alvorens jy jou video kan skiet, bv. die genre of soort video wat jy wil skiet, die ligging (binne- of buitenshuis, op ’n berg of langs ’n rivier) en ook die weersomstandighede.  Wie sorg vir die draaiboek, storiebord, skietlys, kostuums, rekwisiete en die teks en grafika soos bv. vir die openings- en eindtitels?

Skep jou eie kammawêreld – maak bv. ’n besige stad van kartonbuise en -houers of gebruik speelgoed en miniatuur plantjies om ’n woestyntoneel na te boots. Jy kan ook groenskerm-opnames maak wat jou in staat stel om onmoontlike agtergrondtonele agter mense of voorwerpe te sit. Laat jou lewelose rekwisiete beweeg deur die towerkag van stop-beweging tegnologie. Jy kan selfs van hommeltuie gebruik maak om asemrowende oorhoofse skote mee te neem. Die boek wys jou onder meer ook om oorgange tussen tonele te hanteer, ’n lokprent te maak van jou video en ook hoe om dit in die regte formaat uit te voer om met kykers te deel

Hê pret met jou troeteldier, verfilm jou eie kosmaakdemonstrasie, maak ’n musiekvideo of resenseer ’n produk. Skater oor jou flaters. Skiet jou eie animasievideo, maak jou eie fliek of neem spesiale geleenthede op. Hierdie briljante boek sal jou alles en nog wat leer om wonderlike video’s met jou foon of digitale kamera te neem.

Selfs as volwassene kon ek Video-idees nie neersit nie. As videoleek het ek baie baat gevind by die boek en het ek self ook ’n idee of twee gekry om dalk my eie videoprojek aan te pak. Ek kan my voorstel dat kinders ure se vermaak sal put daaruit om hierdie uiters kreatiewe en verbeeldingryke stokperdjie te beoefen. Spring solank die springmielies en bespreek jou sitplek op die sofa, want boeta of sussa gaan met hulle eie flieks wil spog.

Video-idees is by toonaangewende handelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.