Boekresensie: Maaltye – maklike geregte vir elke geleentheid

Maaltye – maklike geregte vir elke geleentheid deur Christine Capendale word uitgegee deur Human & Rousseau

Dit verg soms deeglike beplanning en kopkrap om daagliks heerlike en voedsame maaltye voor te sit. Christine Capendale se fantastiese resepteboek, Maaltyemaklike geregte vir elke geleentheid, gee smullekker idees vir middagetes, aandetes en onthaalmaaltye. As jy nie baie tyd het om ure lank te staan en kook nie, maar tog verleidelike, gesonde en interessante geregte wil bedien, gaan hierdie boek jou sommer baie handig te pas kom.

Capendale glo daarin om gaste in ’n ontspanne atmosfeer te onthaal “waar vriende en familie soms kan hand bysit en tuis voel”. Sy skryf: “Wat ’n vreugde om vir sulke spesiale oomblikke in die lewe te kan beplan en te wys hoeveel ek omgee deur te doen wat ek die graagste doen!” Om mense te onthaal is vir haar ’n belangrike deel van die lewe. “Niks maak my gelukkiger as om saam met met vriende, bure, familie of selfs vreemdelinge wat toevallig by ons opdaag iets te kan eet nie.” Sy glo ook dat mens “die beste gehalte wat jy kan bekostig en in seisoen is” moet koop wanneer dit by bestanddele kom.

Maaltye word in ’n groot sagtebandformaat uitgegee en beslaan 208 bladsye. Die pragtige volblad volkleurfoto’s deur die talentvolle Myburgh du Plessis laat die leser se mond water en jou hande jeuk om die resepte te beproef. Ek het veral die inligting onder die “Het jy geweet?”-hofies baie interessant en leersaam gevind.

Die kookboek is opgedeel in verskeie interessante hoofstukke waaronder “Maaltydbeplanning”. Hier gee Capendale uitstekende wenke vir weeklikse maaltydbeplanning. Sy sluit selfs spyskaarte (saamgestel uit resepte wat in Maaltye voorkom) vir ’n maand in. “Om maaltye te beplan sal jou tyd en geld spaar, en dit kan jou help om gesonder koskeuses te maak.”

Hieronder volg ’n kort opsomming oor elke hoofstuk plus enkele voorbeelde van die resepte daarin vervat:

Staatmakers in my koskas, yskas en vrieskas

Capendale reken dat “’n koskas en ’n yskas met basiese voorrade van goeie gehalte is soos om ’n vol spaarvarkie te hê!” Van die heerlike resepte hierin vervat, is: uiemarmelade, hoemoes en meringues. Die resep vir brosgebraaide uie op bladsy 18 lewer vier liplekker porsies as garnering.

Eenskottelmaaltye

Hierdie maklike eenskottelgeregte is behoorlike trooskos. Dit “kombineer al die bestanddele vir ’n volledige maaltyd in een bak of pot, wat die genot van huiskos met min moeite en opwaswerk bied.” Die maalvleis-en-mielie-herderspastei, hoender-biryani met tamatie en brosgebraaide uie en chorizo-en-gort-risotto is maklike disse wat vorentoe smaak. Die resep vir Italiaanse hoender op bladsy 30 gaan beslis een van die resepte word wat ek gereeld sal voorberei.

Slaaimaaltye

Slaai is lankal nie meer net ’n bygereg nie. “Die kragtige grane, laevet-proteïene en ongelooflik geurige slaaisous in hierdie resepte maak hulle gebalanseerd en aptytlik – elke happie is interessant en heerlik.” Hoe klink lamsvleis-en-groenteslaai met bokmelkkaas, Griekse hoender-en-koeskoesslaai met tzatziki en steakslaai met groenboontjies, broccoli en wasabi-sous vir jou? Die soesji-slaai op bladsy 48 gaan sonder twyfel ook baie aftrek kry.

Sopmaaltye

Die voordeel van sop is dat jy die resepte kan verdubbel indien nodig en dit vries. “Sop is ook ’n baie slim manier om groente by jou dieet in te sluit, en om kinders aan nuwe geure bloot te stel.” Ek is baie lief vir sop en die ramen-noedelsop met biefstuk, Meksikaanse rooibonesop met avokadosalsa en geurige rooilensiesop met spinasie-en-uiepakoras sal enige grou wintersdag opkikker. Ek het die smaaklike blomkool-en-kekerertjiesop op bladsy 72 baie geniet.

Bykos

Bykos kan ’n maaltyd maak of breek. In hierdie hoofstuk vind jy ou bekende gunstelinge sowel as ’n paar moderne keuses. Vandag is “geregte soos blomkoolrys en murgpampoentjie-spaghetti” baie gewild. Baba-aartappels met knoffel en suurlemoen, patatskyfies en lensierys met gekaramelliseerde uie sal kieskeurige gaste laat vra na meer. Ek bly maar lief vir ’n broodjie en sal die platbrode met knoffelbotter op bladsy 87 gereeld voorsit.

Kortpadmaaltye

Soms moet mens jou wend tot geriefsprodukte soos rotisserie-hoender, geblikte bone en pastasouse om vinnig iets te ete op die tafel te kry. “Koop altyd die beste handelsmerke wat jy kan bekostig en by winkels met ’n goeie naam.” Talle besige ma’s sal graag die hoender-en-mielienacho’s, Griekse frikkadelletjies met geroosterde pitabroodjies en Napolitaanse gnocchi-en-spinasiegebak aan hulle gesinne bedien op weeksaande. Die roti’s met maalvleis-en-bonekerrie op bladsy 104 kan binne 30 minute gereed wees om honger mae te vul.

Vegetariese maaltye

Dis geensins moeilik om vegetariese gaste te onthaal nie. Dié “geurbelaaide geregte is vinnig en maklik om te maak en sal enigeen tevrede stel – vegetariër of te nie”. Van die resepte kan ook in ’n japtrap in nie-vegetariër maaltye omskep word deur vleis van jou keuse by te voeg. Die heerlike pampoen-mielie-en-lensiegebak, lasagna met tamatie, spinasie en halloumi en die uietert met olywe en gorgonzolakaas sal jou vegetariese gaste hul lippe laat aflek. Die bruschetta met sampioene, fetakaas en pekanneute op bladsy 122 is baie spesiaal en ideaal vir laat-ontbyt.

Trooskos

Die resepte in hierdie hoofstuk is “geregte wat koester en bederf” en baie beslis gunstelinge. Daar is die gerookte soet-en-suur-varkvleis, beesvleis-stroganoff met romerige grasuie-polenta en pangebraaide geelstert met quinoa en botterbone. Die foto van die Griekse lamstjops met murgpampoentjie-spaghetti op bladsy 145 verlei jou om op die daad gaste oor te nooi vir ete.

Maaltye vir onthaal

Hierdie hoofstuk bevat voorgeregte, hoofmaaltye en nageregte. Volgens Capendale is koskook en onthaal haar liefdestaal. “Of dit nou ’n spoggerige driegangmaaltyd is, of ’n eenskottelgereg vir die nuwe bure wat so pas ingetrek het, dit is ’n manier om te wys dat ek omgee.” Sy sê ook: “Die herinneringe wat jy skep saam met mense vir wie jy omgee moet die belangrikste oorweging wees.”

– Voorgeregte

“Voorgeregte gee die toon aan vir die geleentheid.” Die lieflike peer-en-biltongslaai, fillo-en-feta-pakkies met suurlemoen en tiemie en gebraaide klappergarnale sal luister aan enige maaltyd verleen. Die bief-tagliata met ranktamaties op bladsy 160 lyk indrukwekkend en lewer vier porsies.

– Hoofmaaltye

Capendale sit graag die resepte in hierdie hoofstuk voor by spesiale geleenthede. “Party resepte verg ’n bietjie beplanning, en party is aan die duur kant, maar almal is maklik om te maak en sonder onverkrygbare bestanddele.” Bederf die spesiale mense in jou lewe met onvergeetlike lamsboud met geroosterde knoffel, chimichurri en patats, beesfilet met burrata en kappertjiesous en klewerige varkribbetjies met mielie-en-boontjieslaai. Die plathoender met murgpampoentjiepoffers op bladsy 170 laat die mond water.

– Nageregte

Wanneer dit by nageregte kom, moet mens ongelukkig matigheid voor oë hou, maar daar is natuurlik geen rede waarom ons nie onsself soms kan bederf nie. Jou gaste sal vir lank nog praat oor hoe lekker jy hulle bederf wanneer jy bloubessie-en-tiemie-clafoutis, suurlemoen-meringueparfaits en mango-gemmer-en-mascarpone-tertjies bedien. Ek is nou maar een maal lief vir roomys en gaan manlief sommer vanaand nog verras met die smulleker stroopwafel met roomys en frambose op bladsy 198.

Meer oor die outeur:
Christine Capendale het ’n graad in Huishoudkunde en Dieetkunde aan die US behaal. Sy is bekend om haar praktiese kookklasse en het ook onlangs aanlynklasse deur middel van video-opnames op haar Facebook-blad begin aanbied. Sy het twee kombuise, ’n klein funksielokaal en ’n gastehuis in Kaapstad waar sy kan kook, bak, proe, inspireer en eksperimenteer.

*Maaltye is ook in Engels beskikbaar as Meals

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.