Boekresensie: Maggie: My lewe in die kamp

(Foto: Verskaf.)

Maggie: My lewe in die kamp is geskryf deur Maggie Jooste en word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Heel voor in hierdie besondere boek is ’n brief van die skrywer, Margaretha (Maggie) Jooste: “Dit is nie ’n geskiedkundige verhaal nie, net persoonlike ondervinding van ’n jong dogter van 14 jaar. Ek is nou 76 jaar – 1962 – en skryf maar bewerig en skryf dus net wat ek werklik onthou van my jong daë (sic).” Sy dra die boek op aan “elke mens – Afrikaans- of Engelssprekend, wit of swart – wat deur die Anglo-Boereoorlog geraak is.” Haar manuskrip het glo vergete op ’n boekrak gelê alvorens dit 57 jaar later deur haar familie ontdek is.

Emeritus-professor (UP) Fransjohan Pretorius skryf in die Voorwoord: “Maggie, wat in 1886 gebore is, was 13 jaar oud toe die oorlog in Oktober 1899 uitbreek. Haar verstand was nog glashelder toe sy haar storie in 1962 op die ouderdom van 76 jaar laat uittik het. Sy het haar herinneringe oorspronklik in Afrikaans opgeteken en dit toe in Engels vertaal. Dit ly geen twyfel dat sy baie goed kon skryf nie. Daarvan getuig haar gesensorde brief wat sy as 14-jarige aan haar gewese onderwyseres geskryf het, ’n brief wat in Emily Hobhouse se boek The Brunt of the War and Where It Fell ingesluit is.”

Ek het dit besonders baie geniet om Maggie: My lewe in die kamp te lees. Die aangrypende en hartverskeurende ware verhaal bied ’n eiesoortige blik op die Anglo-Boereoorlog uit die ongewone gesigspunt van ’n “intelligente en oplettende tienermeisie wat aanvanklik die oorlog op haar tuisdorp Heidelberg in die Zuid-Afrikaansche Republiek (die ZAR of Transvaal) beleef en toe na twee Natalse konsentrasiekampe, eers in Pietermaritzburg en daarna in Howick, weggevoer is” (p. 13).

Maggie se pa, Jakobus Petrus Jooste, was ’n wamaker en hoefsmid op Heidelberg. Hy was suksesvol in sy beroep en hulle het ’n gerieflike lewe gelei. Eers was die oorlog net vae gerugte oor wat aan die fronte gebeur het, maar toe breek die dag aan dat die mans van die Heidelberg-kommando ook húlle perde moes opsaal en gaan veg het – Maggie se pa en broers is saam. Op 23 Junie 1900 beset die Britte Heidelberg. Maggie se ma, Anna Susanna, ontvang ná maande in huisarres instruksies op 5 Desember 1900 dat sy en die kinders die volgende dag per veetrok na ’n konsentrasiekamp vervoer sal word. Die leser word by ’n “haas ondenkbare wêreld van ontbering en wanhoop ingetrek” (p. 17). Interessant genoeg het die Joostes se Engelssprekende vriende, die Russells, hulle voor en ná die oorlog bygestaan. Die verhaal is dus deurspek met nie net swaarkry en ontbering nie, maar ook medemenslikheid en vriendskappe – selfs oor vyandsgrense heen. Dit is ook ’n storie van eers alles verloor en dan weer oor begin.

Die swart-en-wit foto’s in hierdie kosbare onthouboek het my aan die hart gegryp. Dít, meer as enigiets anders, het my laat besef dat die meesleurende verhaal wáár is. Maggie se kleinneef, Graham Jooste, skryf in die Nawoord: “Ons huldig en bedank Maggie vir haar versiendheid om die historiese familiedokument wat hier gepubliseer word, vir ons te behou.” Hy sluit só af: “Sy was ’n waarlik nederige, minsame en wonderlike mens.”

Bill Nasson beskryf die boek op die agterblad só: “Diep ontroerende oorlogsmemoires – pragtig geskryf, propvol fassinerende besonderhede en wonderlik leesbaar.”

Fransjohan Pretorius word só aangehaal op die voorblad: “Daar is geen bitterheid nie. Geen pro-Boer of anti-Britse propaganda nie. ’n Baie intieme en treffend eerlike vertelling …”

Skaf gerus jou kopie van Maggie: My lewe in die kamp hier aan. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Maggie: My life in the camp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.