Boekresensie: Meer as net ’n ma

Meer as net ’n ma: Stories en raad uit die hart van die Naguilklub deur Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Die Naguilklub is gestig toe drie doodgewone ma’s (die outeurs hier bo genoem) besluit het om ’n oordeelvrye digitalevrye ruimte te skep waar ma’s mekaar kan bemoedig, ondersteun en inspireer asook van waardevolle raad en wenke kan bedien. Moederskap is nie vir sissies nie, en ma’s moet kophou tussen snotneuse, vloermoere, slapelose nagte en vuil doeke deur. Ma’s is onder erge druk om die perfekte beeld van moederskap en vrouwees voor te hou, en dit gee weer aanleiding tot die sogenaamde mommy wars – keiser of normaal, bors of bottel, om te sleep train of nie … Boonop verwag die samelewing van ma’s om enige tyd van die dag of nag te lyk asof hulle deur ’n ring getrek kan word.

Lente, Suzanne en Juanli is al drie ma’s van twee kinders. Hulle deel hulle persoonlike ouerskapervaring soos dit is, sonder voorgee en filters, sodat ander ma’s aanklank daarby kan vind, want uiteindelik is almal in dieselfde vaarwater, al roei party met ’n roeispaan in ’n opblaasbootjie en skuif sommige agter die kragstuur van ’n jag in. Rolanda Marais skryf op die agterblad: “Die boek het my in trane gehad omdat ek vir die eerste keer gevoel het ek is nie alleen in dié geweldige oorweldigende wonderlike wilde rollercoaster genaamd moederskap nie.” Minki van der Westhuizen beskryf die boek as “onbeskaamd eerlik, opreg en propvol humor”, en Zetske van Pletzen reken die boek is soos “’n beste vriendin wat verstaan waardeur jy gaan”.

Die oomblik as ’n vrou ma word, verander haar hele lewe en ook hoe ander en sy haarself sien. Juanli skryf: “Mamma, ja, maar dis beslis nie ál nie. Jy is meer as net een soort vrou – jy is élke vrou. ’n Multidimensionele meesterstuk.” Die volgende paragraaf in die inleiding het ook my oog gevang: “Ons gedagtes is uit ons lywe geskryf, in die vorm van gedigte, dagboekinskrywings, artikels, briewe en selfs lawwe grappies. Ons deel ons ervarings en die lesse wat ons soms op die harde manier geleer het … Dit is nie ’n handleiding hierdie nie; dit is saam vrae vra en antwoorde soek wat vir jóú werk.” Lente skryf op bladsy 201 van haar vriendin Tjitske wat die volgende wysheid kwytgeraak het oor ouerskap en wat om te verwag: “It’s the most profound thing you will ever do. It’s also the most common thing.”

Met hoofstuktitels soos onder andere “Boobs en bottels”, “Eters en slapers”, “Glasballe en rubberballe”, “Hoes, poep en skinder” en “Koorsagtig” is daar wraggies nie ’n vervelige oomblik in dié boek nie. Die kontakbesonderhede van kenners agter in die boek is besonder handig. Niks en niemand kan mens regtig voorberei om moederskap nie, nie eens ’n eerste kind nie. Elke moederskapervaring met elke kind is anders. Een ding is seker: Ma’s het ’n ondersteuningsnetwerk nodig. Ouerskap is morsig en woes, maar dit is ook groots en lieflik. Hierdie boek draai nie doekies om nie. Ma’s lees hier van inverted nipples en koliekbabas, setpille en oorinfeksies. Daar is ook wenke oor dissipline en ’n eetplan vir babas om met vaste kos te begin. Ek het die gedeelte deur Mirka Barnard getiteld “Wanneer iemand in jou village rou” met groot deernis gelees, want sy deel haar ervaring ná haar seuntjie, Joe, se dood. Jackie van Wyk skryf oor die wonder van ouerskap ná onvrugbaarheid.

Meer as net ’n ma: Stories en raad uit die hart van die Naguilklub is die perfekte boek om aan ma’s of voornemende ma’s geskenk te gee. Ek het kop geskud en geknik en ook gehuil en gelag toe ek hierdie boek oor die vreugde en uitdagings van ma-wees lees.

Meer oor die drie outeurs, al drie stigterslede van die Naguilklub en ma’s van twee kinders: Lente Swift woon in Durbanville en is ‘n toegelate prokureur met ‘n honneursgraad in sielkunde. Suzanne Smit woon in Centurion en is ‘n toegelate prokureur en belastingspesialis. Juanli Theron woon in Stellenbosch en is die hoof van die Tolkdiens by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum.

Skaf jou boek hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.