Boekresensie: Meisies kan enige iets doen

Meisies kan enige iets doen is geskryf deur Caryl Hart met illustrasies deur Ali Pye. Dit word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie rymende prenteboek van 32 bladsye vir kleuters drie jaar en ouer lê sterk klem op die bemagtiging van meisies, geslagsgelykheid en vroueregte. Die wonderlike boodskap van die boek is dat meisies absoluut fantasties is en net mooi enige iets kan doen wat hulle wil. En al is daar baie meisies wat verskillend lyk, is daar net een meisie soos jý.

Dis lekker om ’n meisie te wees en ’n verskil te maak. Of jy nou somme maak of skaatsplank ry, tiere tem of trekkers ry –  as jy ’n meisie is, het jy waagmoed en krag. Jy mag groot droom en vreesloos wees. As jy vasbyt, sal jy altyd wen. Die lekkerste van alles is dat meisies net beter raak soos hulle ouer word!

Die helde gallery agter in die boek bring hulde aan vyftien dapper en bekende vroue soos byvoorbeeld die menseregte-aktivis, Malala Yousafzai, wat die jongste wenner van die Nobelprys vir Vrede is, en die bergklimmer, Arunima Sinha, die eerste vroulike geamputeerde op Everest.

Girls can do anything is deur Jaco Jacobs in Afrikaans vertaal. Meisies kan enige iets doen se eerste Afrikaanse uitgawe in 2018 word deur LAPA Uitgewers in samewerking met Scholastic Children’s Books, Londen, Engeland, uitgegee.

Caryl Hart woon in Derbyshire, Engeland. Sy is ’n bekroonde kinderboekskrywer en bied ook werksessies aan in kreatiewe geletterdheid.

Aly Pye se pragtige illustrasies is prettig en kleurvol. Sy het ’n MA in illustrasie aan die Universiteit van Kingston verwerf. Sy woon in Londen saam met haar man en kinders.

Skaf gerus hierdie oulike boek aan vir ’n spesiale meisie in jou lewe en leer haar van kleins af dat sy die wêreld kan verander.

Meisies kan enige iets doen is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers of Graffiti Boeke bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.