Boekresensie: Mia: ‘n Ma se storie van verlies en hoop

Mia: ‘n Ma se storie van verlies en hoop deur Mariska Robberts word uitgegee deur Lux Verbi.

Die driejarige Mia Ananja Robberts was nie ’n stil en stemmige dogtertjie nie. “Mia was uitbundig. Sy het oopbek gelag. Sy kon briesend kwaad word. Sy het alles in oormaat gedoen. En ons was oormatig lief vir haar” (17). Ek het lank by hierdie woorde stilgestaan en na die swart en wit foto van die laggende kleuter gestaar. Die son val oor die blink, deurmekaar blonde hare van die dogtertjie wie se ogies eintlik op skrefies trek soos sy uitbundig lag vir die kamera. Die foto is vol lig en lewe. Dis moeilik om te glo dat dié bondeltjie energie haar lewe op 27 Maart 2013 in ’n botsing met ’n trekker verloor het. “Die oomblik toe ek besef het Mia is dood, sal ek sekerlik ook nooit vergeet nie. Al die drome oor wat ons nog saam sou doen, oor wat sy met haar lewe sou doen, was net weg. Soos ’n vink se nes uitmekaargeruk” (62).

Mia was saam met haar gesin, ma Mariska, pa Franché en haar twee boeties, Morné en Stéfan, en Pauline, wat toe reeds byne 15 jaar lank vir die Robbertse gewerk het, met vakansie toe die ongeluk op die Bottelarypad gebeur het. Mariska vertel: “Ek was nog altyd die veiligheidsgordel-korporaal in ons huis. Ek vra tot 100 keer op ’n dag – altans, só voel dit vir my – dat die kinders hulle veiligheidsgordels moet vasmaak” (25). Sy was gewoonlik regtig kwaai oor die dra van veiligheidsgordels, maar nie op daardie noodlottige dag nie. Dit was immers vakansie. “Hoekom ek daardie oggend nie ‘maak vas’ gesê het nie, weet ek nie. Dalk het ek net te lekker ontspan en vergeet van die roetine en ritme wat ons by die huis handhaaf. Min het ek geweet wat dit my gaan kos …” (25).

Mia het noodlottige breinbeserings en ’n gebreekte nek in die ongeluk opgedoen en is op slag dood. Die res van die gesin en Pauline kom met net skrape en bloukolle daarvan af. In die hospitaalkamer het Stéfan laat hoor: “Mamma, jy was reg. Jy sê altyd ons moet vasmaak, en kyk nou net wat het gebeur” (30). Dié woorde van haar seun het soos ’n baie skerp mes deur Mariska gesny. Sy vertel hoe belangrik dit vir haar en haar man was om vir mekaar te sê dat hulle mekaar vergewe en nie sal verwyt nie. Hulle hou Mia se herinneringsdiens op ’n Saterdagmiddag. “Kan dit wees dat foto’s op ’n skerm al is wat ’n mens van jou kind oorhou?” (46)

Mariska het begin om briewe te skryf. Soms vir haarself, soms vir God en soms aan Mia. “Ek skryf vir jou om te onthou” (43). Sy vra in ’n teksboodskap vir haar tannie, ’n mediese dokter: “Tannie, Mia se nekkie het gebreek en sy is dood aan kopbeserings. Ek dink dit was haar harsings wat ek op die gras so ’n entjie van haar af sien lê het. Dink Tannie sy was dadelik dood toe sy die venster getref het? Of sou sy iets kon voel toe sy daar op die gras gelê het?” Die tannie skryf terug: “Nee, sy sou dadelik dood gewees het en sy sou niks gevoel het nie. Sy sou nie eens geweet het wat met haar gebeur het nie.” Mariska skryf terug: “Die laaste wat sy geweet het, was dan toe sy nog in my arms was? … Sy het net uit my arms in Jesus se arms ingegaan?” (49)

Op 19 April 2013 bid Mariska in tale in haar kamer en ontvang ’n visioen van Mia wat laggend en gelukkig in ’n asemrowende mooi tuin speel saam met allerhande diere. Jesus tel haar op en sy blaas soentjies vir haar ma. ’n Paar dae later gee ’n vrou vir Mariska helderpienk tulpe en angel hair en sê: “Die Here het vir my gewys ek moet vir jou sê die droom wat jy oor jou dogtertjie gehad het, moet bevestig word” (59). “Sommige dae moes die hemelse visioene my uit die diepste dal red. Ander dae was ’n koppie koffie saam met ’n goeie vriendin genoeg” (126).

Mia soos vertel aan Colette du Plessis is ’n ma se storie van verlies en hoop. Op die agterplat staan geskryf: “Ma Mariska vertel haar verhaal van smart, verwyt, en uiteindelik aanvaarding. Bowenal leer sy, daar is altyd hoop. Hierdie is ’n eerlike, hartroerende verhaal van verlies, van ’n ma se diepste hartseer. Maar dit is ook ’n getuienis van God se genade en van die genesing en nuwe lewe wat net God kan bring.”

Mariska gesels oor die pad van rou wat sy, haar man en seuns moes stap, saam en afsonderlik. Sy noem ook hoe die kleur pienk vir haar vertroosting bring. “Wanneer jy hierdie boek lees en God druk dit op jou hart om ’n pienk sonsondergang van waar af ook al te stuur, doen dit gerus. My e-posadres is [email protected]. Elke foto bring vir my die gerusstelling dat my pienk dogtertjie se skielike vertrek van die aardbol af tog baie mense geraak het” (137).

Franché deel ook sý ervaring van die ongeluk en die rouproses wat hy as pa deurgemaak het. Hy skryf: “Met Mia se roudiens het ons verkondig dat ons kies om God se plan vir ons lewens te vertrou. Ek dink nie ons het daardie dag werklik die impak van ons woorde besef nie. Vandag weet ek daar is of was geen ander uitweg nie” (197). Predikant en pastorale terapeut, Braam Klopper, adresseer in die laaste hoofstuk van die boek ’n brief aan ouers wat ’n kind verloor het.

Mia is nie ’n maklike boek om te lees nie. Dit is egter ’n noodsaaklike boek om te lees. Nie net vir ouers wat ’n kind aan die dood afgestaan het nie, maar vir enigiemand wat ’n geliefde verloor het. Ek het deur Mia te lees meer insig gekry oor die verskriklike moeilike pad wat treurendes stap na uiteindelike aanvaarding en heling. Ek beaam dan ook ds. Klopper se wens: “En mag hierdie boek van groei in God die lewe en harte van baie mense aanraak” (204). Dankie ook aan ’n ma en pa wat bereid was om hulle seer met lesers te deel. Ook hulle vreugde toe hulle jare later weer ’n babatjie in hulle gesin kon verwelkom.

Skaf Mia gerus hier aan. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.