Boekresensie: My ‘hacks’ vir die lewe

My hacks vir die lewe deur Leandie du Randt word uitgegee deur Penguin Random House.

Leandie skryf voor in My hacks vir die lewe aan die leser: “Ek het al ’n paar dinge in my lewe beleef – van die dood, verwerping en teleurstellings tot totale vreugde en sukses. Ook het ek al agtergekom wat vir my werk en wat nie, en dit alles deur trial and error. Ek het besluit om al die dinge wat ek beleef en geleer het saam te sit in ’n boek wat jou dalk kan help, of inspireer om die lewe meer uniek en positief aan te pak. Ek skryf nie die boek omdat ek dink ek weet meer as jy nie, of omdat ek dink ek het als uitgefigure nie, nee. Ek skryf die boek om te deel. Ons kan almal iets by mekaar leer en ons sal aanhou leer tot die dag wat ons sterf – indien ons wel besluit om die lewe as ’n opwindende leerskool te sien.”

Leandie is in 1988 op Makwassie gebore as die dogter van ’n predikant en onderwyseres. Sy het ’n gelukkige en geborge kinderlewe maar word tog in graad nege toe hulle op Kempton Park woon, deur ouer hokkiemeisies geboelie. Toe sy daaroor by haar pa en broer huil, kry sy die volgende goue raad: “Leandie, jy het nie ’n probleem nie, hulle het.” Sy het besef dat sy nie kan toelaat dat dit haar onderkry nie, maar dit eerder moet omskep in ’n geleentheid om dankbaar te wees vir die mens wat sy is en die mense wat sy in haar lewe het. Dit het duidelik ’n groot invloed op die res van haar lewe gehad, want hierdie talentvolle en gelowige vermaaklikheidster loop haar eie pad met ’n ingesteldheid van dankbaarheid.

Leandie deel in My hacks vir die lewe wenke oor onder andere oefeninge, eet, kuier en uiteet, skoonheid en styl. Sy gesels ook oor verwagtinge, dankbaarheid en die nodigheid van ’n vision board. Dan deel sy haar hartsrituele en raak aan temas soos geestelike oorgawe, trauma, vergifnis en liefdesverhoudings. In hoofstuk vier skryf sy oor haar besigheidsrituele en behandel onderwerpe soos om jou doel te vind en jouself en ander beter te verstaan. Sy gesels oor hoekom dit nodig is om ’n plan van aksie te hê en gee ook bemarkingsadvies en praktiese stappe om ’n besigheid te begin.

My hacks vir die lewe is ’n visueel aantreklike boek tjokkenblok gevul met pragtige foto’s, aanhalings, resepte en allerlei raad en wenke waarin Leandie haar lewensrituele deel. Die taal is loslit en gemaklik met Engels tussenin sodat veral jonger lesers aanklank sal vind. Die gevaar is egter daar dat taalpuriste en ook ouer lesers die Engels tussenin steurend sal vind. Ek het. Ek kan egter sien dat lesers onder dertig hierdie boek absoluut sal verslind. Leandie is duidelik oopkop oor baie dinge, maar haar geloof anker haar. Dit maak van haar ’n navolgingswaardige rolmodel. Mens kan pret hê en suksesvol wees sonder om jou integriteit en geloof prys te gee. Ek wens ek kon Leandie se boek jare gelede lees toe ek die grootmenswêreld vir die eerste keer aangedurf het.

Meer oor die outeur: Leandie du Randt is ’n aktrise, aanbieder, motiveringspreker, entrepreneur en skrywer. Haar debuutboek, Gemaklik in jou eie lyf (2014), is op tieners gemik. Sy is ook stigter en mede-eienaar van die aanlyn onderneming To Be Gift Boxes. Volg haar gerus op sosiale media – Instagram @leandiedurandt en Facebook @leandiedurandtofficial.

Skaf gerus jou kopie van My hacks vir die lewe hier aan. Dit word ook in Engels uitgegee as My life hacks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.