Boekresensie: ’n Museum vol dinosourusse

Dinosourium word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Hierdie reusehardebandboek is tjokkenblok vol wonderlike, kleurvolle illustrasies deur Chris Wormell en sal dinosourus-entoesiaste, jonk én oud, se harte steel. Die interessante en leersame teks, geskryf deur Lily Murray en uit Engels vertaal deur Burgert Behr, is goed nagevors en word in ’n gerieflike skrifgrootte aangebied. Die skrywer het deskundige insette van onder andere paleontoloë gekry. Die leser word trakteer op ’n fassinerende museumtoer in drukvorm wat verskillende galerye of te wel hoofstukke insluit.

Prof. Saul Sereno, ’n paleontoloog van die Universiteit van Chicago, skryf in die voorwoord: “Dinosourusfossiele is al in talle verskillende habitats oor die wêreld heen ontdek. Met elke nuwe ontdekking word nuwe vrae gestel en verbeter ons begrip oor hulle.” Hy vervolg: “Die bestudering van dinosourusse berus nie meer net op fossielbeendere en die rekonstruksie van skelette nie. Navorsing behels nou ook die verkenning van bewyse van proteïenmolekules, been- en eierdopmikrostrukture, tekens van vere en vel, voetspore en -paaie, sowel as X-strale van ledemate en skelette.” Hy nooi dan die leser om deur middel van die boek terug te reis deur die voorgeskiedenis “om die verbrokkeling van die superkontinent Pangaea, en die koms van die dinosourusse te beleef”.

In die Dinosourium-natuurwetenskapmuseum kan jy jou verlustig aan die “uitsonderlike katalogus, wat jou bekendstel aan die ontsettende verskeidenheid van hierdie wesens: van klein, geveerde roofdiere tot groot plantvreters wat die aarde laat bewe het wanneer hulle geloop het” (p. 1). Jy leer hoe dinosourusse gelewe het, hoe hulle mettertyd verander het, wat hulle gevreet het, waar hulle voorgekom het en selfs hoe hulle geveg het. “Dinosourusse is deel van ’n groep reptiele wat argosouriërs genoem word en meer as 250 miljoen jaar gelede ontstaan het” (p. 5). Jy leer ook oor veel meer as net dinosourusse. Jy vind ook uit hoe die wêreld gelyk het in die tyd toe hierdie besondere wesens geleef het. Het jy byvoorbeeld geweet dat die groter dinosourusstamboom ’n kladogram genoem word?

Dinosourium bevat ’n belangrike versameling Mesosoïese monsters, van die kleine Troodon tot die enorme Brachiosourus. Ek het veral die hoofstuk oor vegtende dinosourusse geniet. Hier lees ons van die Pools-Mongoolse ekspedisie wat in 1971 ’n spesimen in die wit sandsteenrotswande van die Gobiwoestyn in Mongolië ontdek het, naamlik twee ineengestrengelde dinosourusskelette – die een ’n wrede Velociraptor mongoliensis en die ander ’n skaapgroot seratopsiër, ’n Protoceratops andrewsi. Dit blyk dat die dinosourusse in ’n geveg tot die dood betrokke was toe hulle albei versmoor het nadat ’n sandduin op hulle neergestort het (p. 78).

Die outeur, Lily Murray, het al ’n verskeidenheid kinderboeke, fiksie sowel as niefiksie die lig laat sien. Op sy beurt is die ervare illustreerder, Chris Wormell, veral bekend vir prenteboeke soos George and the Dragon.

Die boek is oorspronklik in 2017 uitgegee as Dinosaurium deur BIG Picture Press in die Verenigde Koninkryk maar het in Afrikaans by Protea Boekhuis verskyn. Dinosourium sal indrukwekkend lyk op enige boekrak. Ek het heerlik hieraan gelees en het baie geleer oor die ongelooflike oerdiere wat vandag nog ons verbeelding so aangryp. Ek is beslis baie in my skik met my kopie.

Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drikus ·

Dit lyk na ‘n wonderlike boek, net jammer dit werk vanuit ‘n miljoene jare Evolusie paradigma.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.