Boekresensie: ‘ʼn Stukkie van die legkaart’ deur dr. Rina Venter

boekresensie-n-stukkie-van-die-legkaart-rina-venter-01

‘ʼn Stukkie van die legkaart’ slaag daarin om ʼn unieke stem te gee aan ʼn gedeelte van Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis net voor en ná die politieke omwentelinge van 1994. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dr. Rina Venter (80) se outobiografie ʼn Stukkie van die legkaart slaag daarin om ʼn unieke stem te gee aan ʼn gedeelte van Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis net voor en ná die politieke omwentelinge van 1994.

As jy belangstel in die politiek of as die land se maatskaplike kwessies jou na aan die hart lê, behoort Venter se boek hoog op jou moet-lees-lysie te wees.

Venter verskaf ʼn besonderse blik as die eerste en laaste Afrikanervrou wat van 1989 tot 1994 in die Suid-Afrikaanse kabinet gedien het. As minister van gesondheid en welsynsdienste onder oudpres. FW de Klerk, bevind sy haar in die politieke en maatskaplike binnekringe tydens die oorgang van apartheid na demokrasie.

Hierdie boek is egter beslis nie ʼn gewone skinder- of vertel-alles-verhaal nie. Dit gee jou as leser die kans om saam met die skrywer ʼn kykie te kry van wat in hierdie tyd agter die skerms plaasgevind het.

Venter se vertrekpunt is ʼn beskrywing van die spanning tussen die Natte en Sappe wat sy as kind self in haar eie familie ervaar het. Tog begryp jy ook gou dat dit haar as persoon en leier help vorm het.

Sy deel ook haar ervaringe in die tyd as ʼn jong maatskaplike werker binne die land se grootste welsynsorganisasie, die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF). Iets wat op sigself ʼn boek kon beslaan het.

Venter stel die lesers bekend aan die maatskaplike uitdagings wat Afrikaners op myndorpe in die gesig staar. Sy laat jou ook eerstehands kennis maak met die ongenaakbaarheid van die apartheidswetgewing en die direkte uitwerking daarvan op gesinne, terwyl sy die verskillende vlakke van gesag in die Afrikaner-establishment van daardie tyd goed beskryf. Dit is nie net ʼn koue ontleding nie, maar eerder telkens ʼn beskrywing van hoe dit haar geraak en laat nadink het oor sekere aspekte van hoe dinge in die Suid-Afrikaanse samelewing werk.

In hierdie boek neem Venter ook die rol van Afrikaanse vroueorganisasies onder die loep. Sy vertel hoe dié organisasies en swart vroue na mekaar uitgereik het in die noodtoestand in die 1980’s om omstandighede te help stabiliseer.

Venter skryf ook oor die persoonlike magsbasisse wat tot spanning gelei het gedurende haar tyd as minister en die politieke oorgang.

dr-rina-venter-fak

Dr. Rina Venter onderteken ‘n eksemplaar van haar boek by die bekenstelling by die Stellenbosch Woordfees in Maart vanjaar. Foto: FAK

My ervaring is dit Venter daarin slaag om met ʼn eerlikheid en ʼn soort openheid te skryf oor die onderhandelingsproses soos wat sy dit as kabinetslid beleef het. Sy draai ook nie enige doekies om as sy praat oor die foute wat in hierdie tyd gemaak is nie.

Die boek is egter nie vol verwyt nie – dit ontleed die foute in ʼn poging om te verseker dat dit nie in die toekoms herhaal word nie.

Venter se verhaal beslaan meer as 400 bladsye en lees effens stadiger as die gewone boek – nie omdat dit moeilik geskryf is nie, maar eerder omdat dit so gelaai is met insig en feite. Dit dwing die leser ook tot selfondersoek oor die land se gemeenskappe en die politieke denke en hoe die pad vorentoe moet lyk.

Venter slaag daarin om hierdie gedeelte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis met insig te vertel vanuit die oogpunt van ʼn Afrikanervrou, met ʼn nederigheid en op die vrou af, soos dit nog nie vantevore gedoen is nie.

  • ʼn Stukkie van die legkaart is deur Malan Media uitgegee. ʼn Beperkte hoeveelheid eksemplare van die boek is gedruk en kan slegs by die FAK gekoop word teen R450-00 per boek (koerierkoste ingesluit). Besoek die FAK vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

hoe het sy minister geword? in daardie jare was n ministerspos UITSLUITLIK bedoel vir mans wat Broederbonders was…

Theoman ·

Nou die dag gewonder wat van Dr Rina geword het,? so bly om van haar te hoor en ook haar outobiografie wat ek beslis gaan koop. Dankie Dr Rina en sterkte met u boek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.