Boekresensie: Na verre hawens

Na verre hawens deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.

Hennie van Deventer, ’n gesoute wêreldreisiger, se Na verre hawens is een van daardie boeke wat jy lees as jy noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Dis vir daardie droëbekdae wanneer dit voel asof die hele wêreld, almal behalwe jý, op vakansie is. Troos jou egter daaraan dat leunstoelreisigers nét so baie pret kan hê as dié wat so lekker oor die aardbol rondflenter met rugsakke en stapstewels. Jy kan rustig in die gemak van jou eie huis agteroor sit, ’n glasie wyn skink en jou verlustig aan ander se reis eskapades – sonder dat jy jou sak moet skud vir fooitjies of seesand in jou toebroodjies kry.

Na verre hawens beslaan 256 bladsye tjokkenblok vol onvergeetlike vertellinge van die Van Deventers se bootvaarte oor ’n halfeeu heen. Die boek is opgedra “aan alle medeswerwers van die see”. Ek het die Bybelvers voor in die boek treffend gevind: “Sommige mense het met skepe op die see gevaar; en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee … Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees” Psalm 107:23,30 (NLV).

“Kom, vaar saam,” nooi Hennie die leser reeds al in die Voorwoord. Hy skryf: “Om ons kuste woel ’n lewendige skeepsverkeer. ’n Menigte multiverdieping-plesierbote – spogskepe van toprederye soos Cunard, MSC, Oceania en Regent Seven Seas op romantiese vaarte – vereer Suid-Afrikaanse waters toenemend met hul glansryke teenwoordigheid; vakansiepaleise met tot 15 dekke en 5 000 passasiers in 2 000 kajuite en weelderige, ruim suites met privaatbalkonne.” Hennie het deeglik navorsing gedoen oor die vaartuie waarop hulle gevaar het asook die plekke waar hulle aangedoen het en deel sy kennis kwistig en op ’n heerlike geselstrant met die leser. Naskrifte onder aan die 24 hoofstukke bied verdere interessante feite oor die skeepsvaarte.

Hennie en Tokkie se heel eerste skeepsvaart, hulle “nooiensvaart” was in 1970 op die RMS Pendennis Castle, ’n skip van 28 582 ton, van Kaapstad na Durban. “Die luilekker lewe aan boord was ’n vinnig verslawende genot. ’n Liefde vir seevaart het begin blom.” Hennie onthou veral die “tradisionele Pendennis-drankie Pimms, vrugtig met ’n stewige jenewerbasis en ’n paar titseltjies verskillende likeurs,” wat hy aan boord geniet het. Sedertdien het hulle met met ’n wye verskeidenheid vaartuie kennis gemaak: “met die klassieke lynskip Queen Mary 2 van Cunard op internasionale waterweë, met gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook met doodgewone skuitjies”.

Hennie, ook ’n ywerige fotograaf, koester veral die foto wat hy in 1976 van Tokkie met klein Marisa op die heup geneem het met die tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum in die agtergrond. Min het hulle tóé kon raai dat die torings op 11 September 2001 in ’n gekkedaad gelyk met die grond gemaak sou word. Die foto hang vergroot en geraam in hulle huis en herinner hulle aan die Staten Island veerbootrit waar hulle ’n onvergeetlike blik op die Statue of Liberty gekry het. Eric Nieuwkerk, ’n Nederlandse Amerikaner, het hulle aanbeveel: “Bij het instappen loopt je niet naar voren maar blijft je juist op het achterdek. Je zult een schitteren uitzicht hebben op Manhattan en het Vriheidsbeeld.”

Die leser kan uitsien na ’n heerlike nostalgiese terugblik van die Van Deventers se talle reise op see en ook die besienswaardighede wat hulle bevoorreg was om te besoek. Sommige seevakansies aan boord was niks anders as luilekker bederftye nie, maar daar was ook noue ontkomings, moleste en vreemde ervaringe. Hennie en Tokkie het selfs al met hulle vyfjarige tweeling-kleinseuns gereis. Ten einde nie té veel te verklap en sodoende die leser se ontdekkingstogte tussen die blaaie van Na Verre hawens te kortwiek nie, sal ek volstaan met die voorstel wat Hennie op bladsy 144 maak: “Voel jy uitgebrand, is jou batterye papperig, dra jy swaar aan spanning en stres? Stel gerus ’n boortvaart na vreemde hawens op die proef. Die skip is skaars weg van die kaai of die heilsaamheid van die vars seelug bring salige rus en kalmte in jou gemoed. Snelle beterskap is gewaarborg. ’n Verkwikliker opkikker as “vitamiene see” is nêrens te vinde nie”.

Meer oor die skrywer: Die veelbekroonde Hennie van Deventer, ’n bekende humor- en natuurskrywer, was voorheen redakteur van Volksblad asook uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Hy het onder meer die  Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, en die gesogte Nieman Fellowship aan die Harvard-universiteit ontvang. Sy vorige boek, Laatoes, het in 2017 by Naledi verskyn. Hy en sy vrou, Tokkie, het afgetree in Melkbosstrand maar besoek graag hulle bosplek by die Krugerwildtuin.

Na Verre hawens kan direk by Naledi bestel word by [email protected] of besoek Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.