Boekresensie: Nagblind

Nagblind deur Francis Grobler word uitgegee deur Naledi.

Vir my is Nagblind van Francis Grobler een van die opwindendste debute van die afgelope tyd, nie net om die pragtige poësie daarin nie, maar ook om die diepte van die dink in die bundel. Goeie poësie soos:

ink en asem
hoe ver strek die vertoe van ’n vers
met die gespartel van ’n enkele druppel ink
om as metafoor uit stilte te breek
in die oopskeur van ’n asem  (p.35)

Na my oordeel lê die bekoring van hierdie debuut egter juis ook opgesluit in die diepte daarvan, soos die eerste kwatryn van die ewe mooi

só slag ’n mens die aarde
as teken of trofee
het die son die aarde se bloed
in sy hempsak gedra
van dus- tot anderkant skemer –

Bostaande versreëls som die problematiek waarom dit gaan op, naamlik dat die mens van meet af aan verkeerd op die aarde bly trap omdat ons sien maar sonder visie en hoor maar nie luister nie. Daarom tas ons voete en hande die aarde aan.

Die bundel vorm ʼn woordelikse eenheid omdat die gedagtegang self in die verse vasgevang word en dit deurgaans daarvan ook ʼn besinning oor die skryfhandeling maak. “En jou vers tot vae verduideliking” (p.21) spreek. Die vers self verklik ons menswees: “net papier sal weet –

want kyk hoe skreeu die aarde as ek hang” (p.34).

Maar “mensmaaksels verstaan nie”, want hulle weet nie dat “woorde die kras illusie van leef kan breek” (p.3) nie. Daarom bou die bundel “vir jou arke en oë
van modder en spoeg” ( p.7).

en ek skreeu vir jou ’n ongebreekte gebed
met die stem van job
en ’n skaam skoenlapper
wat kniel in die reën  (p.7)

Die skryf van poësie word daarom meer as net gedig, dit word self gebed:

ek sal bid
sodat jy weer soos golwe kan druis
en die kragte van klank
waaruit jy gemaak is
terug in my slaap kan dig (p.10)

Of is dit die gebed wat gedig word?

halwe goed word ook volsinne
jy maak die sinne klaar
waar my asem stop
en daarom sal ek my dig afbid
teen die kleingebed
van jou keel (p.16)

Die bundel is ʼn sinryke spel van lig en donker, nag en dag(breek), die son en die maan, en hierin speel sien en hoor as sintuie ʼn pertinente rol. Maar hoor ons ooit wat hoorbaar is, en sien ons dit wat sigbaar is? Of is dit juis hoekom ons die aarde ontspoor en aantas?

skeur
vandag het ek my voete verpas en
my spoor was vreemd vir my trap
want so maak die aarde as haar nate skeur
en die hemel haar wind uitval
jy het gesê ’n mens bloei net tot dit water word –
ek wou nooit jou nagte met skuins kruise berym
of jou soos ’n raaisel uit my kop laat verkas het nie
daardie oggend sal ek ophou bid –
tot die aarde sonder kartels staan
jy sal ’n krans lê teen my bors want ek sal eerste wees –
elke straal het hulle
uit ons kele gehaal
toe ons besig was om die son te sluk (p.19)

Ook hier kom die skryf van woorde in Nagblind tot sy reg:

’n nag se aspris
geen dagbreek
kan die snerp van ’n slordige nag troos nie –
elke verslete poging om jou te omskryf
laat die son kouer skyn  (p.28)

In poësie wat herinner aan dié van Ingrid Jonker word die poëtiese skeppingselemente, soos  beelding en ritme byna ongemerk en onopgesmuk natuurlike saampraters oor die tema van menswees – of dalk van onweet dit nie is nie .

maar vanaand ken my voete nie my spoor nie
want my asem is swaar en my trap
kleinserig soos die van ’n ding wat mank is (p.51)

Die vraag is eintlik dan ʼn vraag na wat is? Wat is werklikheid en wat in ons bestaan is so gewaan soos die vals maan? Weet ons ooit?

want leef het hoogstens eksperimenteel en
gerieflik blaamverskuiwend geword –
egtheid ’n kommoditeit en
liefde en blomme meestal plastiek  (p.49)

Want sien, onderliggend loop die godsdiens sonder om haar aan die leser op te dring.

Kan dit dan anders dat Nagblind met nagblind moet eindig:

nagblind
“the only thing worse than being blind is having sight but no
vision” – Helen Keller
donker is abstrak
’n terminale oomblik van iets wat saakmaak –
tydelik of terloops
geen blinde nag haal asem nie
(p.83)

En dan spreek die dubbelmaan op die buiteblad ook nog saam en ʼn mens wonder of die vals maan deel is van die waan van ons bestaan tussen weet en nie weet nie, want ons aardlinge is doof en blind, want hulle weet nie wat hulle doen nie. 

Nagblind is ʼn bundel wat my weer opgewonde maak oor die Afrikaanse poësie, maar jy sal dit meer as een keer moet lees. En dít is ʼn plesier!

Francis Grobler se Nagblind word uitgegee deur Naledi. Die boek kos R240-00.

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.