Boekresensie: Onder een dak

Onder een dak deur Dana Snyman word deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

Immergewilde en bekroonde skrywer, Dana Snyman, het geen bekendstelling nodig nie. Hy skryf al etlike jare op ’n eerlike en onopgesmukte wyse sy pad oop tot in menige leser se hart. Hy het die vermoë om met groot deernis die kaf van die koring te skei én tot op die been te sny van dít wat op die ou einde saak maak – menslikheid, naasteliefde en die feit dat élke mens (en dier) waarde het – en dít sonder om sy eie feilbaarheid vir een oomblik buite rekening te laat. Sy skrywes is waarnemings en meelewings, nie veroordelings nie. Tog laat dit die leser nooit onaangeraak nie, want hy lok jou uit om introspeksie te doen en veral jou waardes in heroorweging te neem. Hy vier die elkedagse en die alledaagse. Hy vertel van die doen en late en denke van gewone mense – soos hy en ook ek en jy – maar sonder om regter te speel. Hy lê die siel bloot, vlek dit vlymskerp oop, en laat dit self praat.

Snyman deel in Onder een dak 100 van sy ou en nuwe stories. Abraham de Vries skryf só daaroor op die voorblad: “Dana se stories – uit die land se gisters en uit die hede – vertel hier saam ’n groter verhaal. Eerlik en uniek in Afrikaans.” Die resensent Jonathan Amid reageer só: Dié 100 stories is ’n monument tot ons komplekse ervarings in Suid-Afrika.”

Onder een dak moet proe-proe gelees word. Dit is nie een van daardie boeke wat jy gryp en in een aand wil verslind nie. Jy moet die lekkerte doelbewus uitrek vir daardie rare, stil oomblikke wanneer dit net jy, Dana en een van sy 100 ontroerende en dikwels onthutsende en selfs met tye filosofiese stories is. Want ná elke storie wil jy die boek toemaak en toelaat dat die prentjies wat die woorde in jou hart en gedagtes geteken het, ongehinderd oor en deur jou spoel. En jy vang jouself dat jy dae nadat jy ’n storie gelees het, weer daaroor dink. Sy stories is soos skimme of skaduwees wat aan jou onderbewussyn bly torring.

Die eerste storie se titel is “Tolbos”, en die treffende openingsin is: “So ’n droogte vergeet ’n mens nooit.” Snyman skets in ’n paragraaf nie net die effek van die droogte nie, maar let veral op hoe vernuftig oom Johnny se verslaendheid verwoord word – “Dit was asof alles stadiger begin beweeg het: Uit Kuruman se koers het oom Willie se Bedford-lorrie in ’n lugspieëling stadig met ’n vrag voer vir sy jerseykoeie aangedryf gekom, en voor oom Uys se hotel het oom Johnny stadig uit sy bakkie geklim en stadig by die kroeg se deur ingestap. Die man van die bank het klaar Haasfontein kom opeis.” Snyman se skryfwerk is gestroop van oordaad, maar tog rakel hy volkleurbeelde en atmosfeer soos ’n towenaar in die leser se kop op. Die universele lewenswysheid in die slotsin ruk jou eweneens aan die hart: “In ’n storie wat iets in jou anders maak, onthou jy die droogte net so goed soos die reën wat die uitkoms gebring het.” Dit is sinne soos hierdie wat jou nabetragting laat doen.

Die stories wissel in lengte. Storie nommer 66 getiteld “Zumafikasie” op bladsy 226 is skaars ’n bladsy lank, maar steeds skop dit soos ’n muil. Het ons nie maar almal op een of ander stadium die slotsin wou uiter nie? “Wat de hel is hierdie land besig om met ’n mens te maak?” Hier en daar is swart en wit foto’s wat die leser selfs ’n meer intieme ervaring van die vertellings én ook blik op die verteller gee. Daar is nie net ’n keur van ou familiestories, reisverhale en ware lewensdrama nie, maar ook meer onlangse werk uit Snyman se pen plus twintig nuwe stories oor die pandemie en rugby. Stories soos bv. Shield en Pensioendag word op ’n vinnige trant geskryf en gelees en word as een lang paragraaf aan die leser gebied. Die effek daarvan laat jou uitasem.

Ek het Onder een dak baie geniet en beveel dit heelhartig aan.

Meer oor die skrywer

Snyman is as skrywer geliefd om sy reisverhale wat hy vir Weg! gelewer het en ook die ware lewensdrama wat hy vir Huisgenoot geskryf het. Sy TV-reeks, Op pad met Dana, kry baie aftrek – die vierde reeks het in 2019 begin. Hy deel ook graag sy stories op Facebook met meer as 25 000 volgelinge.

Skaf Onder een dak hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.