Boekresensie: Ontdek-reeks

Die Ontdek-reeks word deur Human en Rousseau uitgegee.

Hierdie puik reeks bestaan uit drie boeke, naamlik Ontdek: Planete, Ontdek: Die menslike liggaam, en Ontdek: Diere. Die boeke is oorspronklik in Engels uitgegee deur Dorling Kindersley Bpk.

Hoewel die reeks geklassifiseer word as niefiksie vir jong mense, het ek as volwassene my verstom aan die feitelike inhoud en gedetailleerde illustrasies en foto’s. Die titels is ideaal vir skooltake en om tuis meer oor die onderwerpe te leer.

Leernotas motiveer die kind om onafhanklik te lees, brei hulle woordeskat uit en prikkel hulle om nuuskierig te wees oor die wêreld waarin hulle leef.

Ontdek: Planete

 

Hierdie omvattende blik op wat in die ruimte aangaan sal enige amateursterrekundige se mond laat oophang. Leer meer oor die agt planete wat om die son wentel. Kyk ook na dwergplanete, komete, eksoplanete, mane en asteroïde. Lees ook oor ruimteverkenners en verlustig jou in boeiende sonnestelselfeite.

In die hoofstuk getiteld “Het jy geweet?” lees ons onder andere die volgende feit: “Onder die persoonlike items wat ruimtevaarders op die maan gelos het, is twee gholfballe wat in 1971 deur Apollo 14 se Alan Shepard agtergelaat is en ’n gesinsfoto van Charles Duke van Apollo 16, die tiende man op die maan in 1972” (64).

Meer oor die skrywer: Carole Stott het al tientalle boeke oor sterrekunde en die ruimte geskryf. Sy lewer ook artikels vir die VK-tydskrif Astronomy Now.

Ontdek: Die menslike liggaam

 

Nuuskierige agies sal mal wees daaroor om die wonder van liggaamsprosesse van nader te bekyk – van die heel kleinste selletjies tot die ingewikkelde stelsels wat saamwerk om ons selle, en ons, aan die lewe te hou. Dis interessant om te sien hoe die mediese wetenskap oor die eeue ontwikkel het en wat in die toekoms moontlik sal wees.

In die hoofstuk getiteld “Die toekoms” lees ons die volgende: “Ontwikkelings in die mediese wetenskap maak dit moontlik om die liggaam op nuwe maniere, soos met bioniese ledemate of kunsmatige organe, te herstel. Party mense dink navorsing met stamselle of hibriede embrio’s maak die lewe minder heilig. Ander voorspel ’n wêreld van nanobotte, kuborge (cyborgs) en breinmikroskyfies” (64).

Meer oor die skrywer: Richard Walker het sy PhD verwerf in fisiologie en biochemie. Hy het vir hoërskoolleerders skoolgehou en was ook dosent voordat hy ’n baie suksesvolle loopbaan as skrywer en konsultant begin volg het.

Ontdek: Diere

InDesign PDF Preset: Penguin_PDF_GSO

Diereliefhebbers sal mal wees daaroor om die interessante diereryk te ontdek – van die kleinste insekte tot die reusagtige boggelrugwalvis. Daar word na die verskillende tipes diere gekyk asook uitgestorwe spesies. Migrasie, dierediëte en bewaring is maar enkele van die onderwerpe wat behandel word.

Ek het veral die hoofstuk getiteld “Rekordhouers” baie insiggewend gevind. Het jy byvoorbeeld geweet dat die kleinste gewerwelde die Australiese larwevis is? Dis die kleinste diertjie met ’n ruggraat – net 7,9 mm lank. “Hy woon in modderige turfmoerasse met ’n hoë suurinhoud en kan in piepklein poeletjies water oorleef” (64).

Meer oor die skrywer: Tom Jackson skryf al vir langer as ’n kwarteeu artikels vir tydskrifte en koerante. Sy spesialisgebied is natuurgeskiedenis, tegnologie en alles wetenskaplik. Hy het al aan projekte vir internasionale uitgewers gewerk, soos Dorling Kindersley, National Geographic, Scholastic, Hachette, Facts on File en BBC Magazines.

Anita van Zyl het al drie boeke se puik Afrikaanse vertalings behartig.

Die Ontdek-reeks hoort beslis op elke gesin se boekrak. Dit het beslis my belangstelling aangewakker en ek beveel dit sonder huiwering aan. Die reeks is by toonaangewende handelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.