Boekresensie: Pienk is nie vir sissies nie

Pienk is nie vir sissies nie is geskryf deur Christien Neser en word uitgegee deur NB Uitgewers.

Christien Neser het die kuns vervolmaak om haar volwasse skrywerstem uit haar jeugboeke te hou. Haar karakters worstel op geloofwaardige wyses met uitdagings en dit word beklemtoon deur die lekker loslit maar tog treffende dialoog waarmee hulle met mekaar kommunikeer. Ek was spyt toe Christien se Pienk is nie vir sissies nie eindig, want ek was heel verlore in die pragstorie en wou graag nóg tyd saam met Nicci en haar fietsryer speekbroers deurbring.

Nicci hou as dertienjarige op met ballet en spits haar toe op bergfietsry. Sy sny haar lang hare af en word Nix – ’n onverskrokke, topklas fietsry-junkie wat stof in die ander klublede se oë skop, ’n verwoester van die veldpaadjies. Alhoewel sy volkome meisie is, hou sy niks van pienk valle en hulpelose prinsesse wat met slap polse wag op ’n prins om hulle te kom red nie. Nee, sy wat Nicci is, is ’n wildewragtig en ry ’n bergfiets dat hy sing. Wat sý van spring en balanseer weet, moet die meeste outjies nog leer. Sy is ’n meisie met ’n ruggraat en ’n houding. Die ou wat háár prins wil wees, sal saam met haar moet kan fietsry – sommer reg rondom Afrika!

Maar dan word Nicci gewelddadig van haar fiets beroof en beland sy in die hospitaal en mag sy vir maande nie weer fietsry nie. Dié aksiebelaaide jeugverhaal ontvou in ’n briljante kragtoer van vergifnis, selfaanvaarding en ook tweede kanse. Dit leer ook dat jy kan triomfeer en steeds sukses kan behaal ná ’n teleurstelling, al beteken dit jy sal moet harder werk en meer kreatief dink. Nicci besluit om die regte ding te doen en om met haar gewete saam te leef. Sy neem beheer oor haar besluite. In Albert Einstein se woorde: “to strive for morality in our actions”. Waar daar ’n wil is, is daar immers ’n weg. Sy sál nie gaan lê en jammer voel vir haarself nie.

Deur haar trauma en teleurstelling ontdek Nicci die waarde van vriendskap en familie. Die boek daag ook geslags- en verhoudingstereotipes speels en slim uit. Aan die einde van die storie kan Nicci terugkyk en sien hoe al die legkaartstukkies bymekaarkom en tog ’n mooi prentjie maak.

Pienk is nie vir sissies nie word deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Meer oor die outeur: Christien Neser is ’n spraakterapeut van Bryanston, Johannesburg. Sy is self tuis op ’n bergfiets. Sy is ook die skrywer van die gewilde Elle-reeks, waarvan boek 8 in 2017 verskyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.