Boekresensie: Pippie Langkous-omnibus

Die Pippie Langkous-omnibus (75 jaar uitgawe) word uitgegee deur Human en Rousseau Uitgewers.

Hierdie opwindende heruitgawe van die Pippie Langkous-omnibus gedenk die onnutsige Pippie se 75ste bestaansjaar. Die omnibus bevat al drie die oorspronklike boeke, naamlik Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee. Dit beslaan ’n allemintige 360 bladsye tjokkenblok vol heerlike leesplesier. Hoewel dit voorgeskryf word vir kinders vanaf ses jaar oud, sal volwassenes hulle natuurlik ook aan die avontuurlustige Pippie se manewales verlustig. Die Pippie Langkous-verhale is deur die jare immers in meer as 75 tale vertaal en het wêreldwyd opslae gemaak.

Die bekroonde kinderboekskrywer Jaco Jacobs het die 1975-vertaling deur Nerina Visser hersien en seker gemaak dat die teks nou in ’n hupse Afrikaans sprankel waarmee hedendaagse kinders kan identifiseer. Jacobs, ’n groot Pippie Langkous-aanhanger, het op Facebook die volgende geskryf: “Pippie Langkous het my kleintyd gewys hoeveel pret boeke kan wees, en dat ’n boek jou kan laat lag tot jy lê! Pippie is alles waarvan ’n kind kan droom: Sy gaan nie skool toe nie, bly op haar eie sonder grootmense wat vir haar voorsê wat om te doen, sy is sterk genoeg om ’n perd op te tel, sy het ’n kis vol goue munte en haar pa is ’n mensvreterkoning. O, en sy het ’n troetelapie genaamd Meneer Jakobs, wat natuurlik vir my as kind vreeslik snaaks was.” Hy het gedurende die grendeltyd sy Pippie-boeke afgestof en aan sy dogtertjies, Mia en Emma, gelees en besef dat die vertaling, hoewel briljant, al byna 50 jaar oud is. NB Uitgewers het sy voorstel om die teks te hersien met entoesiasme aanvaar.

Jaco Jacobs en sy kroos met die heruitagwe van Pippie Langkous se verhale. (Foto: Verskaf)

Kyk net hoe heerlik ánders is Pippie: “My naam is Pippelotta Provianda Rolgordyna Kruisementa Efraimsdogter Langkous, dogter van kaptein Efraim Langkous, voorheen Gevreesde Seevaarder, deesdae mensvreterkoning. Maar die mense noem my sommer Pippie!” (132). Sy het hare die kleur van ’n geelwortel wat sy in stokstywe vlegsels bo haar ore dra. “Haar neus lyk soos ’n aartappeltjie en is vol sproete, en onder die neusie het sy ’n besonder breë mond met sterk wit tande” (17). Haar lewe is propvol avontuur. Sy suig soms stories uit haar duim uit (“Pippie jok mos nie regtig nie, sy jok mos sommer so kamma-kamma, sommer om stories te maak” (225)), maar haar hart is suiwer en op die regte plek, en booswigte moet in hulle pasoppens wees wanneer sy in die omtrek is.

Dr. Mia Oosthuizen, ’n ervare letterkundige en manuskripontwikkelaar, het op Facebook die volgende wenk spesifiek met skrywers gedeel: “Bestudeer gerus die karakterisering en dialoog van Pippie Langkous om te sien hoe ʼn ietwat onwaarskynlike karakter lewe kry, en relevant bly binne die verwysingsraamwerk van jong lesers.”

Ek het nie net heerlik aan die Pippie Langkous-omnibus gelees nie, maar my ook verkneukel aan die talle sketse van Carl Hollander wat die teks komplementeer.

Meer oor die skrywer: Die Sweedse skrywer Astrid Lindgren (1907-2002) het sowat 90 kinder- en jeugboeke geskryf in die vorige eeu. Haar boeke is in 107 tale vertaal en het meer as 165 miljoen eksemplare verkoop. Sy het meer as 100 literêre toekennings in haar leeftyd ontvang, onder andere die Hans Christian Andersenmedalje. Tydens die oorhandigingseremonie van dié prys in April 1958 het sy gesê: “I want to write for a readership that can create miracles. Children create miracles when they read.”

Gaan loer gerus hier indien jy meer oor hierdie formidabele skrywer se nalatenskap wil lees.

Skaf jou kopie van die Pippie Langkous-omnibus (heruitgawe) hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Lank sal jy lewe Liewe Pippie Langkous, jy was so deel van ons kinderlewe. Ek onthou die ligblou hardeband storieboek met swart opgedruk, Pippie Langkous. Ons het jou stukkend gelees. Net so vir Saartjie . Dan was daar die tydskrif Bollie en ook die tydskrif Tina vir jong meisies. En Liewe Heksie, oe la la sy sal ook na aan ons harte bly met Karel Kat, al beweer die nuwe generasie dat Liewe Heksie ewe skielik duiwels is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.