Boekresensie: Retoer Pretoria – Provence

Retoer Pretoria – Provence deur Marita van der Vyver word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Marita van der Vyver se werk het geen bekendstelling nodig nie. Ek onthou nog goed hoe haar eerste volwasse roman, die blitsverkoper Griet skryf ’n sprokie, in 1992 opspraak verwek het, ’n literêre sensasie geword het en sedertdien in sowat ’n dosyn tale vertaal is.

Van der Vyver is ’n uiters veelsydige skrywer wat al verskeie pryse vir haar skryfwerk ingepalm het. Haar werk verskyn gereeld in koerantrubrieke en tydskrifte. Sy het onder meer ’n tiental romans die lig laat sien. Ook ’n bundel kortverhale, twee versamelings essays, kleuterboeke en talle kortverhale en essays in versamelbundels.

Haar nuutste werk, Retoer Pretoria – Provence, is ’n bundel uitgesoekte essays, sketse en rubrieke wat beloof om die leser behoorlik te trakteer op leesstof wat jou laat skater, verlang, dink en soms ook ’n traan laat afvee. Sy neem jou sak en pak saam op ’n nostalgiese reis deur haar kleurvolle lewe en deel haar herinnerings en ervaringe gulhartig. En hiérin lê die lekkerte van die boek. Dit voel kompleet asof die leser gehaltetyd saam met ’n geliefde vriendin verwyl.

Ek het in die gewoonte gekom om tydens middagete ’n essay of rubriek uit die bundel te lees. Ek het gou baie begin uitsien na my volgende afspraak met die wydbelese en -berese Marita. Sy het die manier om ’n situasie so heerlik in gemaklike geselstrant te beskryf dat mens dit wil beaam met ’n welluidende “já!” Wanneer jy die boek toemaak, voel dit asof jy Marita al jare lank ken. Jy mis die gesprekke, wat jy so tussendeur die lees van haar bundel met haar in jou gedagtes gevoer het, want haar vertellings los jou nie maklik nie. Jy bly daaraan dink lank nadat jy die boek toegemaak het.

Die bundel is in verskeie afdelings ingedeel. Elke afdeling dra die titel van een van Marita se boeke. Daar is Die blou van onthou; Vergenoeg; Die dinge van ’n kind; Bestemmings; Stiltetyd; Die hart van ons huis; Dis koue kos, skat; Wegkomkans en Al wat ek weet. Onder elke afdeling lê die skatkis van woordkuns gepen deur die “meisie van die suburbs” soos Marita haarself beskryf. Haar skerp sin vir humor, patos en eerlikheid sorg vir ’n onvergeetlike leeservaring.

Sy skryf in die voorwoord: “Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat jy ’n doodgewone saai nege-tot-vyf-lewe kan lei – en nogtans die ongelooflikste avonture kan belewe.” En ook: “My Afrikaanse back story verryk my lewe elke dag in Frankryk – en my huidige Franse storie laat my ryker voel elke keer wanneer ek weer in Suid-Afrika kom. Die woorde wat in dié boek versamel is, is ’n mengsel van daardie back story en stories oor nou se dae.” Sy beskou Retoer Pretoria – Provence nie as ’n amptelike outobiografie nie, maar suggereer dat haar skryfwerk wat die afgelope jare verskyn het “vingeroefeninge” is vir die “regte memoires” wat sy nog eendag wil skryf.

Ek het veral Marita se essay, ’n Fees op wiele, waarin sy terugdink aan die belangrike rol wat motors in haar grootwordjare gespeel het, geniet. Sy vertel van die nommerplaat-speletjie wat hulle as kinders op die lang pad gespeel het. Jy moes die nommerplate van motors eien en uitroep waar hulle vandaan gekom het. “Nelspruit se TBH was “Too Bloody Hot”, Caledon se CAM was “Caledon se Aantreklike Mans” en Bellville se CY was “Come to Bellville – and C Y”! Dan wil jy saam met haar sug: “Dit was die einde van ’n era. Ons magiese onaanraakbaarheid was verstreke.”

In van die ander essays, rubrieke en sketse skryf Marita onder meer oor tiekiebokse, vegetariërs, beurtkrag en tafelreëls. Sy vertel van haar dae op Stellenbosch en Pretoria, en ook van haar lewe op die Franse platteland waar sy saam met haar Franse man, Alain, woon. Die tema van die bundel ís immers reis. ’n Sielsreis na die self én ’n reis na ver plekke. Marita haal in haar slotparagraaf die skrywer Raymond Carver aan: “And did you get what you wanted from this life, even so? I did. And what did you want? To call myself beloved, to feel myself beloved on the earth.” Dan die treffende slotgedagte: “Dis eintlik al. En dis reeds meer as genoeg.”

Retoer Pretoria – Provence is by toonaangewende handelaars beskikbaar.
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.