Boekresensie: Sasol Voëls van Suider-Afrika

Die vyfde hersiene uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika word deur Penguin Random House uitgegee.

Goeie nuus vir voëlkykers! ’n Skrywerspaneel bestaande uit voëldeskundiges Ian Sinclair, Phil Hockey, Warwick Tarboton, Niall Perrins, Dominic Rollinson en Peter Ryan het die vyfde uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika volledig bygewerk.

Cindy Mogotsi, senior-adjunk-president: korporatiewe aangeleenthede by Sasol, skryf in die voorwoord: “Sasol borg al vir jare ’n aantal omgewingsgerigte publikasies – in besonder oor voëls en voëlverwante sake – as deel van ons verbintenis tot die bewaring van ons streek se natuurerfenis vir huidige en komende geslagte. Ons doel met ondersteuning van omgewingsverwante publikasies en projekte is om waardering van ons erfenis te bevorder. Die 5de uitgawe van Sasol se Voëls van Suider-Afrika help ons om dié doel te bereik; dit bou op die sukses van vorige uitgawes en is verseker van sy plek as die streek se mees omvattende geïllustreerde en betroubaarste veldgids.”

’n Volledige inleiding tot die boek plaas die voëls van Suider-Afrika in perspektief, verskaf inligting oor voëlklassifikasie en -naamgewing en verwys na interessante voëlkykliteratuur en voëlverenigings en -klubs. Die endemisme onder Suid-Afrikaanse voëls word netjies in kolomme oor twee bladsye getoon. Ek het veral die afdeling oor hoe om die boek te gebruik van waarde gevind en het hier al besef hoe omvattend hierdie staatmaker-veldgids nou eintlik is en hoe gebruikersvriendelik die inhoud weergegee word.

Ek was ook bly dat ek gereeld na die woordelys en die geïllustreerde woordelys kon verwys, want as amateurvoëlkyker was van die terminologie vir my vreemd. Die alfabetiese verwysingslys tot voëlgroepe op die laaste bladsy het my aangepor om verkyker om die nek na ons geveerde vriende te gaan soek. Name soos katlagters, kleinjantjies, tjeriktits, wielewale en wulpe het my verbeelding op loop gejaag.

Een van die nuutjies is dat lesers strepieskodes onder die verspreidingskaarte deur middel van die gratis aflaaibare Struik Nature Call-app kan skandeer om voëlroepe te hoor. Dit het beslis my genieting van die boek ’n allemintige hupstoot gegee. Dit is ook ’n pluspunt dat ’n mens nie internetverbinding nodig het om na die roepe te luister nie, aangesien dit by die app ingesluit is. Hoe bevoorreg is hedendaagse lesers nie om hierdie tipe tegnologie moeiteloos én kosteloos beskikbaar te hê nie!

Die 5de uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika gee die jongste spesie-optekenings en spesierekords weer en sluit meer as 800 nuwe illustrasies deur uitstaande illustreerders Norman Arlott (hoofkunstenaar), Alan Harris (vervanging van al die roofvoëls) en Faansie Peacock (vervanging van al die seevoëls en naguile) in. Peter Hayman se naam word ook as illustreerder genoem, en hy word bedank vir gebruik van sy afbeeldings uit die eerste uitgawe. Elke illustrasie is ’n lus vir die oog en die detail merkwaardig. Hoë standaarde is deurgaans baie streng gehandhaaf.

Ek stem saam met Mogotsi wat skryf: “Ons is daarvan oortuig dat hierdie langverwagte uitgawe aan verwagtings sal voldoen en ook ’n betekenisvolle bydrae sal lewer om toerisme na Suider-Afrika te bevorder deur voëlliefhebbers aan te spoor om ons pragtige streek te besoek.” Dit is voorwaar ’n pragpublikasie waarop alle betrokkenes asook die Struik Nature-span baie trots kan wees.

Dié omvattende topverkopergids is ook in Engels beskikbaar as Sasol Birds of South Africa. Daar is ook ’n handige sakpas Sasol Oorsiglys van voëls in Suider-Afrika (Sasol Checklist of Birds in Southern Africa) wat apart aangekoop kan word. Dit laat die voëlkyker toe om veelvuldige waarnemings aan te teken en bevat kruisverwysings na Sasol Voëls van Suider-Afrika.

Bestel gerus jou kopie van Sasol Voëls van Suid-Afrika hier.

Bestel jou kopie van Oorsiglys van voëls van Suider-Afika hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.