Boekresensie: Schalk Schoombie se ‘Tot die dood ons skei’

Die verskynsel van “intieme-vrouemoord” neem plaaslik en internasionaal met rasse skrede toe. Die media berig gereeld van mans wat hulle vroue aanrand, vermink en selfs vermoor. Die bekende joernalis, skrywer en dramaturg Schalk Schoombie se Tot die dood ons skei kyk indringend na hierdie uiters skokkende misdaad wat feitlik alledaags geword het.

Intieme-vrouemoord word gedefineer as: “Die moord van ’n vrou deur ’n intieme maat of lewensmaat, hetsy haar man, kêrel, minnaar, insluitend ’n minnaar van dieselfde geslag of ’n voornemende minnaar, ekskêrel, eksman, vervreemde man en persone wat deur een van die voorafgaande gehuur is.” Die VN se Buro vir Wapens en Misdaad (UNODC) verklaar dat 43 600 vroue in 2012 gesterf het aan die hand van ’n intieme maat of ’n familielid.

Die vraag wat gevra word, is: “Wat dryf iemand om sy vrou en lewensmaat te vermoor?” Schalk Schoombie ondersoek talle gevallestudies en maak ontstellende bevindinge. Die boek bevat ware verhale van intieme-vrouemoord-slagoffers. Vir die leser lees die boek soos ’n riller. Jy lees die een gru-verhaal ná die ander en sukkel om te glo dat elkeen regtig gebeur het. Die skrywer het baie deeglik navorsing gedoen oor die oorsake en motiewe rakende intieme-vrouemoorde. Dis interessant dat hy nie net hoëprofielgevalle wat baie publisiteit ontlok het, hanteer in sy boek nie, maar ook die lot van onbekende vroue aan die leser voorhou.

Letterlik enige voorwerp word byvoorbeeld as moordwapen ingespan. Vroue word onder meer met skroewedraaiers en penne doodgesteek, met toiletdeksels doodgeslaan, met stofsuierpype verwurg en met kettingsae opgesaag. Hulle word sleggesê, geslaan, verdrink, opgeblaas, geskiet, verbrand en selfs opgeëet deur mense wat veronderstel is om hulle lief te hê en te beskerm. Vroue is nooit te oud of te jonk om deur haar man aangerand of vermoor te word nie en selfs swanger vroue loop deur.

In Suid-Afrika word drie vroue elke dag vermoor ‘deur ’n jaloerse, depressiewe of beheersiek man’. Die samelewing durf nie maar net anderpad bly kyk nie. Organisasies en programme wat hulle beywer teen hierdie tipe geweld wat soos ’n kanker aan ons gemeenskappe vreet, is onder meer POWA, Famsa, Lifeline, en NICRO. Die skrywer deel “kenners se raad oor risiko’s en wat die gevaartekens is” en gee ook praktiese advies oor enigiets van vuurwapenwetgewing en beskermingsbevele tot ’n lys van hulporganisasies vir geweldenaars en slagoffers. Daar is selfs ’n doen-lys met ’n plan van aksie wat aan vroue wat mishandel word, raad gee oor “die gevaartydperk net voor en ná sy die man verlaat”.

Die skrywer, Schalk Schoombie, was voorheen kunsresensent, vryskutjoernalis en redakteur van De Kat. Hy is al bekroon met ’n Mondi (1994), ’n ATKV-Mediaveertjie (2009), ’n Anglogold Ashanti-Smeltkroesprys (2012), en ’n FAK-toekenning vir besondere kultuurprestasie. Sy eerste speurverhaal, Rooi Haring, het in 2017 verskyn.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R250,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke 

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.