Boekresensie: Skwiek deur Jaco Jacobs

Resensie deur Louise Viljoen

Die immergewilde en bekroonde skrywer, Jaco Jacobs, se kinderboek, Skwiek, word op die agterblad beskryf as ’n skreeusnaakse, aksiebelaaide avontuur vol skurke, jaagtogte, geheime agente, kaaskrulle … en hamster-hipnose! Hierdie lekkerlees boekie is 64 bladsye lank en spog met baie oulike illustrasies deur Stephen Wallace wat die inhoud beslis komplimenteer.

Op ’n vervelige Dinsdagmiddag lui die voordeurklokkie. Toe Nathan Nel gaan kyk wie by die deur is, vind hy die gang voor hulle woonstel verlate. Daar lê net ’n gewone bruin skoenboks met gate daarin gesny. Nathan se naam is in rooi op die pakkie geskryf. Groot is sy verbasing toe hy die skoenboks se deksel oplig en twee swart kraalogies loer vir hom! Wie op aarde sou aan hom ’n wollerige hamster met ’n tatoe agter die een oor gestuur het?!

Selfs Bianca, sy ouer suster, is gaande oor Skwiek, soos Nathan die hamster doop.

Gelukkig laat sy ma, wat vaal klere dra, ’n vaal ou motor ry en by die tandarts werk, hom toe om die hamster te hou. Oom Denzil, ’n cool fotograaf wat langs hulle woon en nogal met ’n motorfiets ry, gee selfs vir hom ’n hamsterhok present.

Nathan vind gou uit dat die hamster oor ’n baie spesiale krag beskik wat baie handig te pas kom in sekere situasies. Hy en sy beste vriend, Charlie, het hope pret wanneer hy vir Skwiek skool toe neem. Sonder om te veel oor die briljante storie te verklap, kan ek dalk net noem dat hoenderdanse plaasvind. Hoogsgeheime inligting word gesteel, karateskoppe word links en regs uitgedeel en ’n opperse skurk dreig om die hele wêreld oor te neem wanneer hy kommunikasiesatelliete kaap.

Daar is nie ’n enkele vervelige oomblik in hierdie storie nie. Jy lag kort-kort vir ’n snaakse beskrywing en terselfdertyd kou jy jou naels morsaf van al die spanning. Kinders sal absoluut mal wees oor hierdie boek. Dis in ’n lekkerlees formaat geskryf en hulle sal nie kan wag om om te blaai om verder te lees nie.

Jaco Jacobs word nie verniet as een van Suid-Afrika se heel gunsteling kinderboekskrywers beskou nie. Jaco kén kinders; hy het self twee van sy eie. Hy weet net hoe om kinders se verbeelding kreatief te prikkel en ’n onblusbare leeslus by hul aan te wakker met stories waarin hulle hulself kan verloor.

Koop gerus hierdie boek vir ’n kind as geskenk. Skwiek is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za.

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.