Boekresensie: Smulkos

Smulkos, saamgestel deur Esther Malan, word uitgegee deur Human & Rousseau

Smulkos beslaan 100 watertandresepte wat in die Huisgenoot-toetskombuis getoets is. Dit is ’n splinternuwe versameling uit Esther Malan, assistent-kosredakteur van Huisgenoot, You en Drum, se gewilde Vat Vyf-kosrubriek wat weekliks in Huisgenoot verskyn. Die kookboek, ’n lywige 240 bladsye in ’n gerieflike sagteband formaat, bevat geurige resepte wat enige smulpaap sy of haar lippe sal laat aflek.

Esther skryf: “Van goudbruin gebraaide pampoenpoffers met roosmaryn-dukkha, spoggerige masala-skenkelpasteie en botterhoenderkerrie, tot malvapoeding met ’n brandewynsous, het hierdie samestelling van my beste resepte werklik ’n dis vir elke huistafel. Of dit nou tradisioneel, eksperimenteel of ’n mengelmoes uit verskeie kulture is, of selfs ’n uitvloeisel van my gesonde nuuskierigheid, hierdie boek is propvol smulkos.” Sy daag die leser uit om “nuuskierig te wees en saam te smul”.

Yvonne Beyers, redakteur van Huisgenoot, stel dit só in die voorwoord: “In dié blaaie sal jy ’n versameling vind van Esther se heel lekkerste, beste resepte sedert sy in 2011 by ons aangesluit het. Dis Huisgenoot se trots en spesiaal vir ons lesers geskep.”

Die talentvolle fotograwe, Jacques Stander, Misha Jordaan, Megan Miller en David Briers, se pragtige volkleurfoto’s is spesiaal uitgesoek om die disse en gebak ten beste te laat vertoon. Mens wil jou verbeel dat jy die lieflike geur van die geregte kan ruik deur net na die aptytwekkende foto’s te kyk.

Die resepte is ingedeel in tien smullekker hoofstukke. Hier volg die titels van die hoofstukke en, in hakies, watter tipe geregte dit insluit. Ek noem ook vier van die talle heerlike resepte wat onder elke hoofstuk verskyn.

Laat-lê (eier- en ontbytresepte): kakao-en-klapper granola, aartappelkoekies met tamatie en fetakaas, Franse roosterbrood met karamelpiesangs en worsiepastei.

Deeg en vulsels (soutterte en pasteie): alles-in-een-herderspastei, wildspastei, tamatie-en-cheddarquiche en outydse marmitetert met gekerfde biltong.

Straatkos (straat- en kitskosresepte): tuisgemaakte tortillas, prego-steakrolletjies, Mosambiekse peri-peri sous en Amerikaanse worsies-aan-’n-stokkie.

Kraakvars en gesond (slaaie met ’n kinkel): avokado-en-kekerertjieslaai, kruie-tamatieslaai met versuikerde pampoenpitte, broccoli-en-koolslaai met spek-vinaigrette en geroostepampoen-slaai met neuterige spek-krummel.

Huiskos (ou bekende disse): gerolde lasagne met botterskorsie en biltong, poetoepap met sishebo, biltong en spinasie, gepekelde waterblommetjies en frikkadel-vetkoekies met tamatiesalsa.

Hier kiep-kiep (hoenderresepte): klewerige tamatie-hoendervlerkies, gestopte hoender met bombaai-aartappels, hoender-en-blomkoolrisotto en pesto-roomhoender.

Kaggelkos (troos- en bederfkos): heilsame murgbeensop, spek-en-rissie-mieliebrood, stampkoringrisotto en beesstertbredie met polenta.

Waar daar ’n rokie is (oor die kole): varkrib met pruimsous, gebraaide sardyne met olyfsalsa, gerolde kebabs met tamatieslaai en tjops met papvingers en chakalaka-botter.

Soet stapels (pannekoeke, plaatkoekies en koekies): marmer-bruintjies, basaarpannekoeke, maklike madeleintjies en suurlemoenmeringue-vlaskywe.

Parmantige poedings (warm-en-koue nageregte): koejaweltert, brandewyn-sjokoladetruffels, Cremora-koffietert met lemoen en sakpas Turkse baklava.

Esther is aangewys as 2017 se Galliova-kosskrywer van die Jaar vir Koerante en Weeklikse Tydskrifte. Plaasmeisie van die Paarl, het sy die volgende oor haar liefde vir kosmaak te sê: “Van kleins af was nuuskierigheid, veral as dit by kos kom, een van my grootste dryfvere. Ek was ’n kombuis-rabbedoe wat gereeld saam met my boetie kos-eksperimente aangepak het.” Dankie tog dat Esther nie skrik vir ’n uitdaging of twee in die kombuis nie, want haar “slim kinkels en vindingryke veranderings” maak dat “ekonomiese kos nie vaal en voorspelbaar hoef te wees nie”. Haar idees help duisende gesinne weekliks om die rande te rek én steeds lekker te eet.

Ek is baie in my skik met my kopie van Smulkos en kan die boek heelhartig aanbeveel.

Smulkos word deur Human & Rousseau uitgegee en kan hier bestel word. Dit is ook in Engels beskikbaar as Home Cooking.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae