Boekresensie: Sonder dié boek is taalpraktisyns armer

(Foto: Maroela Media.)

Gewone Taal: ‘n Oorsig deur prof. Eleanor Cornelius word uitgegee deur African Sun Media.

Deur George de Bruin

Daar is ’n paar onmisbare bronne wat elke gerekende taalpraktisyn binne reikafstand moet hê: die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS); ’n goeie verklarende woordeboek vir elke taal waarin jy werk; ’n goeie twee- (soms drie-)talige woordeboek; ’n uitstekende stylgids; en ’n goeie vakwoordeboek of twee. En pas het nóg ’n boek verskyn wat elke taalpraktisyn in hul arsenaal móét hê: Gewone Taal: ’n Oorsig deur prof. Eleanor Cornelius.

“Gewone taal” is nie net ’n nuwe gons- of modewoord nie. Dit het noodsaaklik geword in ’n wêreld waarin mense met inligting gebombardeer word en skrywers wil verseker dat hulle gelees én verstaan (en onthou!) word. Gewone taal is allesbehalwe die blote verwatering van ’n taal of teks. En dis presies waarom Cornelius se boek onontbeerlik is. In Deel I verduidelik sy wat gewone taal is (en nie is nie), en wat die voordele daarvan is. Teen dié agtergrond verduidelik sy in Deel II dan sorgvuldig wat van ’n moeilik leesbare teks so ’n ingewikkelde ding maak – op woord-, sins- én teksvlak. In Deel III pas Cornelius die teorie in die praktyk toe. Die boek sê dus nie net wat gewone taal is nie; dit verduidelik ook, met uitstekende voorbeelde, hoe gewone taal in die praktyk lyk. En om dinge makliker te maak, sluit Cornelius ’n kontrolelys in wat stap vir stap aandui watter konstruksies afbreuk doen aan die leesbaarheid van ’n teks, en watter konstruksies die leesbaarheid daarvan verhoog. Hierdie lys verseker dat enige taalpraktisyn sonder veel moeite die beginsels van gewone taal suksesvol op tekste kan toepas.

Daar is ook ’n paar ander aspekte van hierdie boek wat beïndruk:

  • Dit is die eerste van sy soort in Afrikaans, vir Afrikaans en oor Afrikaans.
  • Dit is die resultaat van bykans 15 jaar van oorspronklike empiriese navorsing en ervaring.
  • Dit is geskryf deur iemand wat allerweë as die kenner van gewone taal in Suid-Afrika beskou word – iemand wat dus weet waarvan sy praat.

Taalpraktisyns wat hul sout werd is, sal dié boek beslis aanskaf, daardeur werk en begin om tekste te lewer wat vir die gewone mens toeganklik is. As jy ’n taalpraktisyn is wat jou nering as roeping sien, jou leser deurentyd in gedagte hou en jou outeur bó die ander wil laat uitstaan, moet jy so gou moontlik ’n plek op jou boekrak maak vir Gewone Taal: ’n Oorsig.

  • George de Bruin is die senior taalpraktisyn by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.