Boekresensie: Spaghetti tussen jou tone

Spaghetti-tussen-jou-tone-HIGH-RES-002.jpg

Spaghetti tussen jou tone is geskryf deur Jaco Jacobs en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Ek het hierdie heerlike skaterlagstorie vreeslik baie geniet en kan verstaan waarom kinders versot is daarop. Jaco Jacobs wéét hoe om om alledaagse situasies waarmee kinders identifiseer te omskep in stories wat hulle monde laat oophang.

Kinderfiksie is sy forte en hy is nie verniet een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers nie. Daar is al meer as 140 van sy boeke gepubliseer en daarvan het byna ’n miljoen kopieë op sy baie tevrede lesers se boekrakke beland.

In Spaghetti tussen jou tone maak die leser kennis met Tom en Trevor wat beste maats is. Hulle deel dieselfde spesiale talent, naamlik grappe maak en poetse bak. Hierdie bedrieglik eenvoudige storie oor twee onnutsige seuntjies se ervaring wanneer hulle ’n nuwe juffrou kry, hou die leser se aandag gevange tot op die laaste bladsy.

Alex van Houwelingen se prettige, volkleur illustrasies sorg ook groot pret.

Getrou aan die vereistes vir kinderverhale, skitter die dialoog en trampolien die storie van die een opwindende aksietoneel na die volgende. Rissiesous kry byvoorbeeld verbeeldingryke name soos VlamVat, Vuurvreter en BrandBek. Die boek bevat ook ’n paar baie oulike rympies.

Juffrou Zaan van Graan word glo nooit ooit kwaad nie. Sy is gaaf en dierbaar en die kinders doen die lekkerste dinge in haar klas. Tom en Trevor sien dit natuurlik as ’n persoonlike uitdaging om haar te help om haar humeur te verloor! Hulle wil haar baie graag woedend sien en trek haar die een streep op ’n ander. Juffrou van Graan verras hulle egter met ’n paar truuks van haar eie. Die twee grootste poetsbakkers in die skool kyk behoorlik op hulle neuse.

Jaco Jacobs se Spaghetti tussen jou tone is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.