Boekresensie: Speelmaats-reeks

Die Speelmaats-reeks deur Rosie Greening word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Die opwindende Speelmaats-reeks bestaan nie net uit oulike stories en pragtige illustrasies waaroor kinders mal sal wees nie, maar dit is ook opvoedkundig van aard sonder om prekerig voor te kom.

Die reeks is ontwerp om kinders drie jaar en ouer meer te leer oor emosies en sosiale vaardighede. Elke boek fokus op ’n unieke emosie of sosiale vaardigheid deur alledaagse situasies binne die kind se leefwêreld te skets waarmee hy of sy identifiseer. Die doel van die reeks is om ouers, opvoeders en versorgers ’n aanknopingspunt te gee om met jong kinders, wat hulle ontluikende gevoelens oor hulself en die wêreld om hul begin verken, te gesels.

Die boekies is geskik vir saamlees en is in maklike, verstaanbare taal geskryf. Daar is wenke en vrae agterin elke boek wat ouers kan gebruik om die boek se spesiale tema met hulle kinders te bespreek en selfs daarop voort te bou. Dawn Machell se kleurvolle illustrasies komplimenteer die boodskap en moedig verdere bespreking rondom die gevoel of gedragsonderwerp aan. Die dierekarakters sal menige kinderhart steel en hulle sal die prentjies ywerig bestudeer. Vetgedrukte woorde in die teks beklemtoon nuttige woorde of frases wat met die tema van die boek te doen het. Dit kan ouers lei na dele van die storie waaroor hulle ’n geselsie met hul kinders kan aanknoop.

In een van die boeke in die Speelmaats-reeks, Hamster leer om te help, ruim die diere die speelkamer op, maar Hamster wil nie help nie. Sy is te besig om haar legkaart te bou. Sy kom toe agter dat daar een legkaartstukkie kort. Sy vra die diere om haar daarna te help soek, maar nou maak hulle soos sy gemaak het en sê dat hulle te besig is! Hamster soek oral maar kry die legkaartstukkie nêrens nie. Die diere stel voor dat sy hulle eers help om die speelgoed weg te pak en dan sal hul haar help om die legkaartstukkie te soek. Hierdie keer help Hamster haar maats fluks en omdat hulle saamwerk, is die werk vinniger klaar. Eekhoring ontdek die verlore legkaartstukkie onder die mat. Hamster is nou baie bly dat sy haar maats gehelp het. Sy stel voor dat hulle die volgende legkaart saam bou. Van die vrae wat hieroor gevra kan word, is: Hoe voel jy wanneer iemand jou help? Waarom is dit lekker om te help?

Alison Walker (B.Ed), ’n kleuterskoolonderwyser met meer as twee dekades se ondervinding in preprimêre onderwys, en Sarah Davis (B.A. Hons, M.A), ’n skrywer en redakteur van kinderfiksie en niefiksie wat oor ’n meestersgraad in Geïntegreerde Kinder- en Adolessentterapie beskik, het as konsultante vir die reeks opgetree. Hulle het waardevolle advies oor die teks en die illustrasies gegee.

Ek beveel die Speelmaats-reeks heelhartig en sonder enige voorbehoud aan. Die feit dat dit kommunikasie tussen ouer en kind bevorder, is ’n groot pluspunt. Kinders leer hoe om met vrymoedigheid oor hulle gevoelens te praat en ook hoe om in sekere situasies op te tree.

Die titels van die agt boeke in die reeks is:

Die reeks is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.