Boekresensie: Steinhoff en die Stellenbosse Boys

Steinhoff en die Stellenbosse Boys neem op 7 Julie die eerste plek in op Suid-Afrika se Nielsen-boekdatalys. Die boek is ook in die eerste posisie op die algehele niefiksielys en en die lys van Suid-Afrikaansvervaardigde boeke. – Red

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is geskryf deur James-Brent Styan en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Die Steinhoff-groep was op 5 Desember 2017 nog ’n allemintige R193 miljard werd. Skaars ’n dag later is R117 miljard daarvan uitgewis – en dit was nog maar net die begin van die enorme verliese. Steinhoff-aandele, wat al vir meer as R90 per aandeel verhandel het, het sedertdien tot enkele sente bo R1 gedaal voordat die aandeleprys weer begin verstewig het.

Die internasionale sakeryk het oornag verkrummel.

Steinhoff en die Stellenbosse Boys word beskryf as “die eerste volledige weergawe van hierdie verstommende verhaal van die grootste finansiële ineenstorting in die geskiedenis van Suid-Afrika.”

Dié sake-exposé van die jaar lees soos ’n boeiende riller. James-Brent Styan het Steinhoff se geskiedenis deeglik nagevors en lê die binnewerkinge van die groep bloot deur middel van onderhoude met dosyne betroubare bronne en inligting verkry uit vertroulike dokumente.

Die boek is in ’n grootdruklettertipe gedruk en lees besonder vloeiend. Dit bevat ook ’n vereenvoudigde oorsig van die Steinhoff-groepstruktuur sowel as foto’s van die sleutelrolspelers.

Styan gaan haal die verhaal heel aan die begin in 1964 in Westerstede, Duitsland, waar die Steinhoff-maatskappy sy oorsprong gehad het. Op 23 September 1998 is Steinhoff International op die JSE genoteer. Die grondslag is gelê vir groot dinge en die maatskappy het van krag tot krag gegroei … tot Desember 2017 toe die sakereus se verkrummeling skokgolwe die wêreld ingestuur het en gelei het tot reuseverliese. Verliese wat baie van ons se beursies raak.

Die skrywer beantwoord vrae soos: “Wat presies het gebeur? Wie het wat geweet? Wat is Steinhoff, wie is Markus Jooste en wat het dit alles met die sogenaamde ‘Stellenbosse-mafia’ te doen? Hoe pas die magnaat Christo Wiese, Shoprite en Pepkor in en waar is die pensionarisse se geld heen?” Die grootbaas van Steinhoff, Markus Jooste, het bedank en “niemand is seker waar die voormalige uitvoerende hoof hom bevind nie”. Sedertdien val geraamtes uit die kas en allerhande bewerings doen die rondte.

Meer oor die outeur: James-Brent Styan is ’n gekwalifiseerde rekenmeester wat sakejoernalis geword het en tans in kommunikasie werk. Hy het al vir Finweek, Forbes Africa, Sake24, Fin24, Beeld en Die Burger geskryf. Die titels van sy twee ander boeke is: Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting en Blackout – The Eskom Crisis.

Skaf gerus hierdie sakeriller aan. Steinhoff en die Stellenbosse Boys is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word.
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.