Boekresensie: Terugblik

Terugblik deur prof. Fransjohan Pretorius word uitgegee deur Protea Boekhuis

Lesers wat ’n lewendige belangstelling in geskiedenis en ons land se verlede het, sal hulle verlustig in hierdie splinternuwe publikasie uit Protea Boekhuis se stal.

Terugblik bevat ’n versameling van 80 van prof. Fransjohan Pretorius se uiters interessante rubrieke, oor die geskiedenis van Suid-Afrika van nog voordat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het tot die jongste tye, soos in die dagblad Beeld verskyn het. Pretorius is ’n gesaghebbende geskiedkundige wat bekend is daarvoor dat hy geskiedenis toeganklik maak vir die gewone leser.

Terugblik bevat nie net boeiende inligting oor die grootste oomblikke in ons geskiedenis nie, maar ook sketse oor minder bekende maar wel belangrike gebeurtenisse. Die leser maak, volgens die keersy, “kennis met die helde en hensoppers, die skurke en sterre van Suid-Afrika se verlede”. Prof. Pretorius se lesersvriendelike skryfstyl asook die talle swart-en-wit foto’s laat die geskiedenis lewe, al skryf hy grappenderwys in die voorwoord: “Die geskiedenisdosent of historikus het dieselfde soort werk as ’n narkositeur – ons sus ons kliënte aan die slaap.” Ek het gevind dat die baie kort hoofstukke en die pakkende informasie daarin vervat glad nie moeilik lees nie; trouens, ek het sommer ’n hele paar hoofstukke op ’n slag kafgedraf juis omdat dit so lekker lees.

Die boek is opgedeel in sewe temas, nl. Kaapkolonie; die Voortrekkers; die Anglo-Zoeloeoorlog, 1879; die Boererepublieke; Anglo-Boereoorlog; Geskiedskrywing; en Suid-Afrikaanse geskiedenis in die 20ste eeu. Hoofstuk een handel oor ’n Fenisiese (Kanaänitiese) tog van 600 v.C. en dié se betekenis vir Suid-Afrika. Dit is vervat uit ’n referaat wat prof. Pretorius oor die Middellandse See vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief gelewer het in Florence, Italië, in 2009. Hieruit is dit duidelik dat “die Egiptiese farao Neku II, wat tussen 612 en 596 v.C. regeer het, Fenisiese seevaarders opdrag gegee het om ’n omvaart van Afrika te onderneem”. Prof. Pretorius sluit die hoofstuk só af: “Jacob Zuma se probleme met die Nederlandse afstammelinge in Suid-Afrika het in 600 v.C. begin, nie in 1652 nie.” Die daaropvolgende hoofstuk handel oor die stigting van die VOC in 1602.

Van die rebellie van Slagtersnek (1815-1816), die redes vir die Groot Trek, verskillende veldslae, die huise van die Randlords (mynmagnate) in Parktown, goud aan die Witwatersrand, ontsnappings, die Spaanse griep, en Afrikaans as spreek- en skryftaal tydens die Anglo-Boereoorlog tot rugbytoetse op Ellispark en liedjie-aande by Jannie du Toit bied hierdie pragpublikasie iets aktueels vir elke leser.

Ek het veral hoofstuk 47 getiteld “Humor tydens die Anglo-Boereoorlog” baie geniet, want dit is vir my so tekenend aan hoe die Afrikaner maar altyd moeilike tye deurstaan – met ’n grappie of twee. “Ná die slag van Elandslaagte is kol. Adolf Schiel van die Duitse Korps krygsgevange geneem met ’n wond aan sy been. Terwyl hy in pyn daar lê, hoor hy hoe ’n Britse soldaat die krygsgevange Boere se wapens bymekaarmaak. ‘Do you have arms?’ vra die kêrel vir hom. ‘Yes,’ antwoord die Duitser in sy swaar Germaanse aksent, ‘two arms, but only one leg!’”

Ek het my verlustig aan hierdie wetenswaardige en wyduiteenlopende werke en sal die boek beslis ook aanskaf as geskenk vir iemand wat, soos ek, graag meer lees oor vervloeë dae se mense en die gebeure wat ons as land en volk geslyp het. Dit is ’n opwindende versameling en ek voel beslis verryk ná die lees daarvan.

Meer oor die skrywer: Fransjohan Pretorius is professor emeritus van die Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria. Sy publikasies oor die Anglo-Boereoorlog is al verskeie kere bekroon. Hy het ook in 2019 die Jan H. Maraisprys ontvang vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal.

Skaf Terugblik gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.