Boekresensie: Twee reekse vir kinders

Die aardigste kinders op aarde-reeks

David Walliams, ’n internasionale blitsverkoper en baasverteller, se Die aardigste kinders op aarde-reeks word in Afrikaans uitgegee deur Protea Boekhuis. Die bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys het die eerste drie boeke getiteld Die aardigste kinders op aarde, Die aardigste kinders op aarde 2 en Die aardigste kinders op aarde 3 uit Engels vertaal. Tony Ross se vrolike volkleurillustrasies maak van hierdie reeks ’n visuele fees. Die bladuitleg is lekker besig en modern.

Die volgende waarskuwing verskyn op die agterblad van die eerste boek in die reeks: “Asseblief-blief-blief, ’n duisend assebliewe en dan nóg ’n asseblief … Moenie hierdie boek lees nie!” Natúúrlik gaan kinders mos nou éérs nuuskierig wees en die boek verslind. Walliams word nie verniet met Roald Dahl vergelyk nie. Hy kén kinders en weet presies wat hulle fassineer. Hierdie reeks het beskrywende hoofstuktitels soos Dries Drup-drup, Fanie Fiemies en Pieter Poetse. Dries Drup-drup se kwyl neem glo industriële afmetings aan omdat hy so lui is en net wil slaap. En hoe meer hy snork, hoe meer kwyl hy – liters daarvan! Fanie Fiemies weier weer om sy mond aan vrugte en groente te sit en Pieter Poetse bak die allergemeenste poetse. Elke boek bevat tien stories en dus tien uitsonderlike karakters waaroor kinders mal sal wees. En ja, die aaklige kinders leer wel hulle les, so daar is tog ’n subtiele boodskap in elke storie, so ouers kan ontspan.

Uittreksel uit “Die drie derduiwels” (Die aardigste kinders op aarde 3): Piet, Peet en Paul is net sekonders ná mekaar gebore. Hulle het baklei om eerste by hulle ma se maag uit te kom en mekaar met die elmboog in die ribbes gestamp om eerste gebore te word. Jy sien, hulle al drie wou bobaas wees. Van die eerste oomblik af het elkeen sy bes gedoen om beter as die die ander twee te wees. Omdat hulle drie van die aardigste, aakligste kinders op aarde is, wou hulle kyk wie die alleraakligste kon wees. Die peslikste pes (15).

Wees ook op die uitkyk vir Die aardigste onnies op aarde wat tien stories oor nare onderwysers bevat wat die aardigste kinders op aarde soos ’n kerkkoor laat klink.

Kies-jou-avontuur-reeks

Die geliefde kinderboekskrywer De Wet Hugo se opwindende Kies-jou-avontuur-reeks het kinders oral in die land aan die lees. Die reeks bestaan uit drie boeke getiteld Die gevaarlikste speletjie op aarde, Die gevaarlikste boek op aarde en Die gevaarlikste fliek op aarde en word gepubliseer deur Human & Rousseau. Die bekroonde illustreerder Johann Strauss het gesorg vir die baie mooi illustrasies.

Daar verskyn ook waarskuwings op elke boek in die reeks: “Wees gewaarsku: Hierdie boek is anders as enige ander boek. Daar is meer as 30 verskillende eindes vir die storie – en jy is die een wat moet kies!” Hoe opwindend! Watter kind sal die uitdaging om dapper en slim te wees, weerstaan? Hugo belowe ’n groot en opwindende, maar ook gevaarlike leesreis en wens sy lesers alle voorspoed toe op hulle sending. Ek het heerlik aan hierdie boeke gelees, en ja, om gevaar te vermy is nie noodwendig die beste opsie nie, en ek moes ’n paar keer teruggaan en my keuses hersien. Dit was lekker om déél van elke storie te voel. In Die gevaarlikste speletjie op aarde word ’n rekenaarspeletjiekampioen weggevoer na die kuberruim waar ene Gigabyte verduidelik dat hy na die sewe wonders van die antieke wêreld moet reis om ses goue muntstukke te vind. In Die gevaarlikste boek op aarde vernietig Greta haar stiefsussie se sprokiesboek en bevind haar dan saam met Hannes in die koninkryk van Fantastorië waar hulle saam met ’n nors kabouter na vyf legkaartstukke moet soek. In Die gevaarlikste fliek op aarde ontvoer ’n hologramreus vir Dieter en Darius na ’n virtuele fliekwêreld waar hulle vyf flieks moet oorleef en vier fliekkaartjies moet vind.

Uittreksel uit Die gevaarlikste fliek op aarde: Dieter kyk om hom rond. Dit kan tog seker nie skade doen as hy net vir ’n oomblik langs Darius gaan sit en hom verbeel hy is Captain Kirk nie. Hy stap opgewonde nader. Maar dan haak sy voet en hy verloor sy balans. Hy besef hy gaan sy kop teen die paneelbord kap en steek sy hande voor hom uit. Dan voel hy hoe hy per ongeluk ’n paar knoppies druk. Die ruimtetuig begin vreemde geluide te maak. Sjoesj! Zoem! Brrr! Piep-piep-piep! (29)

Alhoewel Die aardigste kinders op aarde-reeks aanbeveel word vir kinders ses tot nege jaar oud en die Kies-jou-avontuur-reeks vir nege tot twaalfjariges, het ek as volwassene sommer baie lekker aan albei reekse gelees. Dis malse pret!

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.