Boekresensie: Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie sagtebandboek van 376 bladsye verdien ’n ereplek op elke Afrikaanse gesin se boekrak. Dit is duidelik dat menige lesers só voel, want hierdie niefiksieboek vir kinders nege jaar en ouer verkoop soos soetkoek.

Die skrywer, Engela Duvenage, vertel in meer as 100 lekkerleesverhale oor onder meer wetenskaplikes wat baanbrekerswerk verrig, maar nie altyd in die openbaar geloof word vir hulle harde en dikwels grensverskuiwende werk nie. Dié boek is trots Afrikaans en wil lesers aanmoedig om vrae te vra, te ontdek en te skep. Die lokteks op die agterblad beloof: “Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak.”

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika is in ’n gerieflike groot formaat (210 mm x 280 mm) gedruk. Dit bevat nege hoofstukke, elk met sy eie kategorieë. Die hoofstukke se titels is soos volg (ek noem ook ’n enkele kategorie by elk as voorbeeld):

  • Baanbrekers in hartnavorsing (Die kinders se hartdokter: Susan Vosloo);
  • Mediese kenners (Die oordokter en die 3D-drukker: Mashudu Tshifularo);
  • Nobelpryswenners met ’n Suid-Afrikaanse verbintenis (Die CAT-skandeerder se Kaapse verbintenis: Allan Cormack);
  • Dierekenners (Die spinnekopvrou: Ansie Dippenaar-Schoeman);
  • Mense met groen vingers en ’n liefde vir die natuur (Die skoolprojek wat ’n saadjie geplant het: Clare Reid);
  • Mense van die fossielwêreld (Die fossielspeurder wat oor Afrika se dinosourusse skryf: Anusuya Chinsamy-Turan);
  • Slimkoppe wat werk met minerale, die weer of water (Oor weerlig, geheime ontmoetings en die WNNR: Basil Schonland);
  • Kenners van die lugruim (Hoe ’n sterrekundige vir Suid-Afrika sterstatus gegee het: Bennie Fanaroff); en
  • Uitvinders en ander planmakers (Ontmoet die internet-miljoener met matriek: Vinny Lingham).

Duvenage verskaf feite deur middel van lekkerleesverhale wat die leser se verbeelding aangryp en minder na “skool” en “leer” voel. Ná elke verhaal verskyn bykomende inligting in grys geskakeerde teksblokke. Die indrukwekkende bronnelys aan die einde van die boek gee ’n blik op die hoeveelheid navorsing wat gedoen is om hierdie pragpublikasie die lig te laat sien.

Duvenage bedank onder meer “diegene wat inspireer deur hulle werk, breinkrag, vindingrykheid en deursettingsvermoë en daardeur wys daar is hoop in en vir ons land en sy mense”. Tumi K Steyn is verantwoordelik vir die talle mooi illustrasies in die boek.

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika is nie net nommerpas vir skooltake nie, maar sommer ook interessantheidshalwe vir lees. Al word dit voorgeskryf vir laerskoolkinders, het ek as volwassene heerlik hieraan gelees en beslis baie daaruit geleer. Dit is net vir my ’n groot jammerte dat die boek nie ’n hardebandomslag het nie. Ek weet hardebandomslae is duur, maar hierdie boek gaan vir seker verskeie kere deurgeblaai word en ’n hardeblad sou dit net meer kinderbestand gemaak het.

Oor die skrywer

Engela Duvenage beskik oor ’n M.Phil. in Joernalistiek wat sy aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy skryf graag gereeld vir koerante, tydskrifte en vir universiteits- en navorsingspublikasies oor Suid-Afrikaanse wetenskap en die mense daaragter. Ook stel sy ’n landbounavorsingsblad vir Landbouweekblad saam, en skryf ’n omgewingsrubriek vir die tydskrif Lig. Sy woon op Wellington saam met haar man en twee dogters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.