Boekresensie: Van Humpata tot Upingtonia

Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Ek wou dans van vreugde toe die koerier vir my ’n eksemplaar van Nicol Stassen, grootbaas van Protea Boekhuis, se Van Humpata tot Upingtonia aflewer. Ek het in my enigheid gehoop dat ek een van die handjievol resensente sou wees wat ’n resensie-eksemplaar sou ontvang. En glo my gerus, hierdie pragtige, omvangryke publikasie (hardeband met stofomslag) stel nie vir een oomblik teleur nie! Dit het al my verwagtinge oortref. Dit is tjokkenblok gevul met kaarte, kosbare foto’s, illustrasies en deeglike nagevorste feite – voorwaar elke geskiedenisliefhebber se droom.

Ten spyte van die geskiedkundige feite wat dig deur die vertellinge verweef is, bied die teks ’n gemaklike en vloeiende leeservaring, veral omdat dit so ryklik en kleurvol geïllustreer word. Mens leef jou behóórlik in die uiterste beproewinge van die trekkers wat die republiek Upingtonia in die noorde van Damaraland gestig het, in. Stassen merk op: “Selfs onder ’n nasie wat bekend is vir hulle vermoë om koppig en met taaie volharding voort te trek, is die omswerwinge van hierdie groep, wat deur sy ontberings en hardheid selfs dié van die Israeliete deur die woestyn in die skadu stel, sonder weerga” … “Die lotgevalle van hierdie klein groepie rustelose Boere binne die groter tafereel van die geskiedenis, die sogenaamde “Scramble for Africa”, waarin hulle toekoms deur amptenare in raadsale en regeringskantore in Berlyn, Londen en Lissabon bepaal is sonder dat die swerwers daarvan bewus was, is beslis ’n interessante stuk vergete geskiedenis” (14).

Van Humpata tot Upingtonia beslaan 323 bladsye, 14 hoofstukke, 10 bylaes en verskeie kaarte. Die hoofstuktitels is: “Die Dorslandtrek (1874-1881)”; “Vestiging op Humpata (1881-1883)”; “Die ontevredenheid met hulle omstandighede laai op (1883-1884)”; “Die Bié-ekspedisie (Junie – Oktober 1884)”; “Die besoek van ds. Pelser aan Humpata (Junie – September 1884)”; “’n Groep Angola-Boere bly op Humpata (1884-1888)”; “Die trek van Humpata deur Ovamboland (1884-1885)”; “Die stigting van Upingtonia (1885)”; “Die eerste trek van Grootfontein terug Transvaal toe (1885-1886)”; “Die eerste jaar op Upingtonia (1885-1886)”; “Die ondergang van Upingtonia (1886-1887)”; “Die tweede trek van Grootfontein terug Transvaal toe (1887-1888)”; “Die trek van Upingtonia terug Humpata toe (1887-1888)” en “Verdere lotgevalle van die Upingtonia-trekkers”.

Stassen skryf in die Voorwoord: “As jy vir professionele historici sou vra of hulle al gehoor het van die republiek van Upingtonia, sal die reaksie oor die algemeen algehele verbystering wees.” En dis reeds hierin waarin die sjarme en grootsheid van hierdie werk lê – die feit dat weinig, met dalk slegs enkele uitsonderings hier en daar, vertroud is met die gebeure rondom Upingtonia. Dankie tog vir skrywers soos Stassen wat keer dat hierdie baie interessante stuk geskiedenis oor die hardnekkige deursettingsvermoë en onverskrokke durf van ons voorouers vir die nageslag verlore gaan.

Meer oor die outeur: Dr. Nicol Stassen is ’n ou hand wanneer dit kom by navorsing doen oor die Dorslandtrek en die Angola-Boere. Hy beskik oor ’n BA-graad in Tale (Afrikaans, Duits en Russies), ’n meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese en ’n doktorsgraad in Geskiedenis. Van sy mees onlangse publikasies sluit in: Die Dorslandtrek; 1874–1881 (2015) en De Jagers in die Dorsland: Die De Jagers van die sesde Dorslandtrek en hulle afstammelinge (2018).

Skaf gerus hierdie boeiende en baie leersame publikasie aan by toonaangewende boekwinkels. Jy kan die ook hier aanlyn bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.