Boekresensie: Verhale van hoop

Verhale van hoop deur Pieter van Zyl word deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Hierdie wonderlike boek kon nie op ’n beter tyd die lig gesien het nie, en ek is oortuig daarvan dat sommer baie mense baat hierby sal vind.

Juliana Coetzer, skrywer en psigoterapeut, wys op die agterblad daarop dat die boek aangrypende verhale bevat van mense met probleme waarmee ons almal kan identifiseer. Die pandemie en alles wat daarmee gepaard gaan rus swaar op gemoedere, en boonop dra die ekonomiese, maatskaplike en politieke situasies plaaslik én wêreldwyd nie juis daartoe by om ons beter te laat voel nie. Veral vir diegene met psigiese siektes is die pad ongelooflik swaar en voel hulle dikwels alleen en verlate – soms in só ’n mate dat selfdood as enigste uitweg gesien word.

Pieter van Zyl, ’n senior verslaggewer by Huisgenoot met ’n spesiale belangstelling in psigiese gesondheid, se selfhelpboek, Verhale van hoop, gee praktiese wenke en raad aan persone wat aan ’n psigiese siekte ly en ook aan hulle geliefdes van wie hul dikwels afhanklik is vir sorg. Van Zyl ly self aan depressie en angsversteuring en skryf dus gesaghebbend en eerlik oor sy eie ervaringe. Sy ma vertel in ’n hartroerende brief meer oor sy kinderdae en die taai stryd wat hy elke dag dapper stry. Sy sluit haar vertelling af met: “Maar hy is lankal nie meer die donkerkamer- en donkerbrilseuntjie nie. Hy het uit sy dop gekruip, leef nou in die lig en weet wie hy is” (15).

Van Zyl se boek is méér as net ’n hulp vir diegene wat ly aan angs, verslawing, bipolêre gemoedsversteuring, depressie, eetsteurnis, obsessief-kompulsiewe versteuring, pornografieverslawing, opgaarversteuring, posttraumatiese stresversteuring, histrioniese versteuring, grenslynpersoonlikheidversteuring, skisofrenie, Tourette-sindroom en delusionele versteuring. Dit is ook ’n getuienis dat, al voel ’n situasie hóé ondraaglik en gevaarlik, daar altyd hoop is. Ook die subtitel, Só help jy jou geliefde en jouself, wys daarop dat die hoop nie beskaam dat iemand gehelp kan word nie.

Verhale van hoop beslaan 198 bladsye en is in ’n onderhoudende en gemaklike geselstrant geskryf. Die hoofstukke bied waardevolle insae in die lewe van mense met psigiese siektes en ook dié van hulle geliefdes. As leser het ek my in elke unieke situasie ingeleef en my verstom aan die uitdagings wat hierdie mense in die gesig staar en wat hulle alles te bowe moet kom. In ons land kry min mense die professionele ondersteuning wat hulle nodig het, en daarom is ’n boek soos Verhale van hoop waar mense van verskillende agtergronde hulle ervaringe deel so geweldig belangrik en broodnodig. Van Zyl het ’n grootse taak aangepak om by onder andere psigiaters en sielkundiges kers op te steek oor wat mense te doen staan wanneer hulle met psigiese siektes te doen kry – hulle eie of dié van hul geliefdes.

As voorbeeld verwys ek na die hoofstuk getiteld “Grenslynpersoonlikheidversteuring” waarin ’n dogter vertel van haar ma se persoonlikheidversteuring sodat die leser ’n beter idee kan kry van die psigiese siekte se invloed en uitwerking. Drie sielkundiges, drs. Rosa Bredekamp, Dap Louw en Hermann Liebenberg verskaf algemene inligting oor die versteuring en behandel dit onder die hofies, “Hoe om jouself en jou gemoed te beskerm”, “Hoe jy ’n geliefde kan help”, “War jy nooit moet doen of sê nie” en eindig met “Hoe om die persoon by te staan”. Die raad is prakties, doenbaar en professioneel.

Ek beveel Verhale van hoop heelhartig aan.

Meer oor die outeur: Pieter van Zyl het ’n honneursgraad in sielkunde en ’n graad in joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch. Hy was voorheen ’n genoot by die Rosalynn Carter Fellowship for Mental Health Reporting.

Skaf gerus jou kopie van Verhale van hoop hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leonard ·

Destyds het Smeekgebede tot mý Redding gekom. Ék wás STOM PARAPLEEG

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.